Terwyl hulle op pad was om na Jerusalem op te gaan, het Jesus voor hulle uit geloop. Die dissipels was verbaas, en dié wat hulle gevolg het, was bang. Hy het die twaalf weer opsy geneem en begin om hulle te vertel van die dinge wat met Hom gaan gebeur. “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal aan die leierpriesters en skrifkenners oorgelewer word, en hulle sal Hom ter dood veroordeel en aan die heidene oorlewer. Hulle sal Hom bespot, op Hom spoeg, Hom gesel en doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”
Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Hom gekom en gevra: “Meester, ons wil hê dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen.” Jesus vra hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom: “Beskik dat, in u heerlikheid, een van ons aan u regterhand en een aan u linkerhand mag sit.” Maar Jesus antwoord hulle: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word? ” Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” Jesus sê toe vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. Maar om aan my regterhand of linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie, maar dit is vir hulle vir wie dit voorberei is.”
Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes. Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Want ook die •Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.”
Hulle het in Jerigo aangekom. En toe Hy met sy dissipels en 'n groot skare uit Jerigo vertrek, het 'n blinde bedelaar, Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, begin hy uitroep: “•Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!” Baie mense het hom berispend aangesê om stil te bly, maar hy het net al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom!” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.” Hy gooi toe sy bokleed af, spring op en kom na Jesus toe. Jesus vra hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde man antwoord Hom: “Rabboeni, dat ek kan sien. ” Jesus sê toe vir hom: “Gaan! Jou geloof het jou gered. ” En dadelik kon hy sien, en hy het Hom op sy pad gevolg.