Matteus 8:1-17

Matteus 8:1-17 AFR20

Nadat Jesus van die berg afgekom het, het 'n groot skare Hom gevolg. En kyk, 'n melaatse het na Hom gekom, voor Hom gekniel en gesê: “Here, as U wil, kan U my rein maak.” Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil – word rein!” En hy is onmiddellik van sy melaatsheid gereinig. Jesus het vir hom gesê: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester en bring die offergawe wat Moses voorgeskryf het, as getuienis vir hulle. ” Nadat Hy in Kapernaum aangekom het, het 'n centurio Hom genader en smekend vir Hom gesê: “Here, my slaaf lê verlam by die huis en ly baie pyn.” Hy het vir hom gesê: “Ek sal gaan en hom genees.” Die centurio het geantwoord: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak kom nie, maar sê net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd, en Hy het vir diegene wat Hom volg, gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: By niemand in Israel het Ek so 'n groot geloof gevind nie. Ek sê nou vir julle dat baie uit die ooste en die weste sal kom en saam met Abraham en Isak en Jakob aanleun om te eet in die •koninkryk van die hemele, maar die kinders van die koninkryk sal na die duisternis daarbuite verban word. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ” Jesus het toe vir die centurio gesê: “Gaan! Dit sal gebeur net soos jy glo.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword. Toe Jesus •Petrus se huis binnegaan, het Hy Petrus se skoonmoeder siek van die koors sien lê. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en Hom bedien. Teen die aand het hulle baie mense wat deur demone besete was, na Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf, en almal wat siek was, gesond gemaak, sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons krankhede weggeneem, en ons siektes het Hy gedra.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 8:1-17