Matteus 2:13-23

Matteus 2:13-23 AFR20

Die sterrekenners het teruggekeer, en kyk, daar het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” Josef het toe gereedgemaak en gedurende die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte vertrek. Hy het daar gebly tot Herodes se dood, sodat die woorde vervul sou word wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat hy deur die sterrekenners om die bos gelei is, was hy briesend. En hy het in Betlehem en die hele omliggende gebied al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe laat bring, in ooreenstemming met die tyd wat hy noukeurig van die sterrekenners verneem het. Toe is vervul wat deur die profeet Jeremia gesê is: “'n Stem is in Rama gehoor, 'n droewige gehuil en 'n luide rouklag; Ragel huil oor haar kinders, en sy weier om vertroos te word, omdat hulle nie meer daar is nie.” Herodes het gesterf, en kyk, daar het in Egipte 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kind en sy moeder en gaan na die land Israel, want die mense wat die Kind om die lewe wou bring, is dood.” Hy het opgestaan en die Kindjie en sy moeder saamgeneem en in die land Israel aangekom. Maar toe hy hoor dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was hy bang om daarheen te gaan. Nadat hy in 'n droom 'n opdrag van God ontvang het, het hy na die landstreek Galilea vertrek en in 'n dorp met die naam Nasaret gaan woon, sodat vervul sou word wat deur die profete gesê is: “Hy sal 'n Nasarener genoem word.”