Matteus 18:21-35

Matteus 18:21-35 AFR20

Toe het •Petrus nader gekom en Hom gevra: “Here, hoeveel keer sal my broer teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe keer toe?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie tot sewe keer nie, maar tot sewentig maal sewe keer. “Daarom is die •koninkryk van die hemele soos 'n koning wat rekenskap van sy slawe wou eis. Toe hy hulle skuld begin nagaan, is een wat tienduisend talent verskuldig was, na hom gebring. Omdat hy nie kon terugbetaal nie, het die heer beveel dat hy, asook sy vrou en kinders en alles wat hy besit, verkoop word en dat die skuld so terugbetaal moes word. Die slaaf het toe voor hom op die grond neergeval, laag voor hom gebuig en gesê, ‘Wees geduldig met my, en ek sal u alles terugbetaal.’ Die heer van daardie slaaf het hom innig jammer gekry, hom vrygelaat en sy skuld vir hom kwytgeskeld. Maar toe daardie slaaf uitgaan, het hy een van sy medeslawe gekry wat hom honderd denarius geskuld het. Hy het hom aan die keel gegryp, gewurg en gesê, ‘Betaal terug wat jy skuld!’ Sy medeslaaf val toe neer en smeek hom, ‘Wees geduldig met my, en ek sal jou terugbetaal.’ Maar hy wou nie – inteendeel, hy het weggegaan en hom in die tronk laat gooi, totdat hy die verskuldigde bedrag sou terugbetaal. “Toe sy medeslawe sien wat gebeur het, was hulle baie ontsteld en het vir hulle heer alles gaan vertel wat gebeur het. Daarop ontbied sy heer hom en sê vir hom, ‘Jou slegte slaaf! Al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek het. Moes jy nie ook jou medeslaaf begenadig soos ek jou begenadig het nie?’ En sy heer het kwaad geword en hom aan die folteraars oorgegee totdat hy al die skuld sou terugbetaal. So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Video vir Matteus 18:21-35