Matteus 13:24-32

Matteus 13:24-32 AFR20

Hy het 'n verdere gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad op sy saailand gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom, drabok tussen die koring gesaai en weggegaan. Toe die spruitjies opskiet en in die aar kom, het die drabok ook begin wys. Die eienaar se slawe het vir hom kom sê, ‘Meneer, het u dan nie goeie saad op u saailand gesaai nie? Waar kom die drabok vandaan?’ Hy het hulle geantwoord, ‘'n Vyand het dit gedoen.’ Die slawe sê toe vir hom, ‘Wil u dat ons dit bymekaar gaan maak?’ Maar hy sê, ‘Nee, anders kan julle dalk, terwyl julle die drabok bymekaarmaak, die koring saam uittrek. Laat albei saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die drabok bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar maak die koring in my skuur bymekaar. ’ ” Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak. ”