Teen dagbreek, op die eerste dag van die week, het hulle na die graf gegaan met die geurige speserye wat hulle voorberei het. Hulle ontdek toe dat die klip van die graf weggerol was; en toe hulle ingaan, het hulle die Here Jesus se liggaam nie gekry nie. Hulle was verward hieroor, maar skielik het daar twee mans met glansende klere by hulle gestaan. Hulle was verskrik en het hulle gesigte na die grond toe gedraai, en die mans het vir hulle gesê: “Waarom soek julle die lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar is opgewek! Onthou wat Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was, ‘Die •Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.’ ” Hulle het toe sy woorde onthou en van die graf af teruggedraai, en al hierdie dinge aan die elf en al die ander gaan vertel. Dit was Maria Magdalena en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en 'n paar ander vroue saam met hulle. Hulle het hierdie dinge aan die •apostels vertel; maar vir die apostels het hierdie woorde na leë praatjies geklink, en hulle het die vroue nie geglo nie. •Petrus egter het opgestaan en na die graf gehardloop. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke. En hy het teruggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.
En kyk, juis op dié dag was twee van hulle op pad na 'n dorp met die naam Emmaus, sestig stadion van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het.
Terwyl hulle so praat en bespiegel, kom Jesus self nader en loop saam met hulle, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Waaroor loop julle so met mekaar en redeneer?” Hulle het gaan staan, hulle gesigte somber. Een van hulle, met die naam Kleopas, het Hom geantwoord: “Is u die enigste vreemdeling in Jerusalem wat nie weet van die dinge wat in hierdie dae in die stad gebeur het nie?” Hy vra hulle: “Watter dinge?” En hulle antwoord Hom: “Dit wat gebeur het met Jesus van Nasaret, 'n profeet, magtig in woord en daad in die oë van God en die hele volk, en hoe die leierpriesters en ons volksleiers Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom laat kruisig het. Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar intussen is dit nou al die derde dag vandat dit gebeur het. Sommige vroue uit ons geledere het ons boonop ontstel. Hulle was vanoggend vroeg by die graf, en toe hulle sy liggaam nie vind nie, het hulle kom vertel dat hulle 'n visioen gesien het van engele wat sê dat Hy leef. 'n Paar van ons het na die graf gegaan en dit net so aangetref soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? ” Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê.
Toe hulle nader kom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis. Maar hulle het sterk by Hom aangedring: “Bly by ons, want dit is amper aand, en die dag is reeds verby.” Hy het toe ingedraai om by hulle oor te bly.
Terwyl Hy saam met hulle vir ete aangeleun het, het Hy brood geneem, die seëngebed uitgespreek, dit gebreek en vir hulle gegee. Toe is hulle oë geopen, en hulle het Hom herken. Hy het egter uit hulle sig verdwyn. En hulle het vir mekaar gesê: “Was ons harte nie brandend in ons toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie?”
Hulle het onmiddellik opgestaan en na Jerusalem teruggekeer, waar hulle die elf, en die ander saam met hulle, bymekaar gevind het. En hulle het gesê: “Die Here is werklik uit die dood opgewek en het aan Simon verskyn!” Hulle verduidelik toe wat op die pad gebeur het, en hoe Hy met die breek van die brood aan hulle bekend geword het.