Tydens Jesus se redevoering het 'n •Fariseër Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het by sy huis ingegaan en aangeleun om te eet. Die Fariseër was verbaas om te sien dat Jesus Hom nie voor die ete laat was het nie. Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is julle vol inhaligheid en boosheid. Dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie? Gee liewer die inhoud vir liefdadigheid, dan sal alles vir julle skoon wees. Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en allerhande soorte kruie, maar julle verwaarloos die reg en die liefde vir God. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplekke in die •sinagoges en om op die markpleine begroet te word. Wee julle, want julle is soos ongemerkte grafte waaroor die mense loop sonder om dit te besef.”
Een van die wetskenners het Hom geantwoord: “Meester, as u dit sê, beledig u ons ook.” Daarop het Hy gesê: “En ook julle wetskenners, wee julle, want julle belas die mense met ondraaglike vragte, en self raak julle nie met 'n vinger aan die vrag nie. Wee julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor. Julle is dus getuies wat die dade van julle voorvaders goedkeur, want hulle het die profete vermoor, en julle bou hulle grafmonumente. Om hierdie rede het die Wysheid van God gesê, ‘Ek sal profete en •apostels na hulle stuur, maar hulle sal sommige doodmaak en vervolg.’ Daarom sal vir die bloed van al die profete wat sedert die grondlegging van die wêreld vergiet is, vergelding van hierdie geslag geëis word – van die bloed van Abel tot by die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die heiligdom om die lewe gebring is. Ja, Ek sê vir julle, dit sal van hierdie geslag geëis word. Wee julle, wetskenners, want julle het die sleutel van kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie, en diegene wat wou ingaan, het julle verhinder.”
Nadat Hy daarvandaan vertrek het, het die skrifkenners en die Fariseërs erg vyandiggesind teenoor Hom geraak, Hom oor baie onderwerpe uitgelok en Hom fyn dopgehou of Hy iets sou sê op grond waarvan hulle Hom kon vastrek.