Josua 7:16-21

Josua 7:16-21 AFR20

Josua het vroeg die môre opgestaan en Israel volgens hulle stamme laat nader kom. Die stam van Juda is toe uitgewys. Hy het die familiegroepe van Juda laat nader kom, en die familiegroep van Serag is uitgewys. Daarna het hy die familiegroep van Serag man vir man laat nader kom, en Sabdi is uitgewys. Toe het hy Sabdi se familie man vir man laat nader kom, en Agan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, is uitgewys. Josua sê toe vir Agan: “My seun, gee tog eer aan die HERE, die God van Israel, en bring lof aan Hom. Vertel my tog wat jy gedoen het. Moenie vir my iets wegsteek nie.” Agan het Josua geantwoord en gesê: “Waarlik, dit is ek wat gesondig het teen die HERE, die God van Israel. Dit is wat ek gedoen het: Ek het onder die buit een mooi koningsmantel uit Sinar, tweehonderd sikkel silwer en een staaf goud wat vyftig sikkel weeg, gesien. Ek het dit begeer en dit gevat. Kyk, dit is weggesteek in die grond, binne-in my tent. Die silwer is heel onder.”