Johannes 7:1-30

Johannes 7:1-30 AFR20

Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. Hy wou nie in Judea rondgaan nie, omdat die Jode Hom wou doodmaak. En die Huttefees van die Jode was op hande. Sy broers het toe vir Hom gesê: “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea, sodat jou dissipels ook die dade wat jy verrig, kan sien. Want niemand doen iets in die geheim en wil dan tog in die openbaar bekend wees nie. Indien jy hierdie dinge wil doen, maak dan jouself aan die wêreld bekend.” Trouens, selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. Jesus sê toe vir hulle: “My bestemde tyd is nog nie hier nie, maar julle tyd is altyd op hande. Die wêreld kan julle nie haat nie, maar hy haat My, omdat Ek van hom getuig dat sy dade boos is. Gaan julle op na die fees. Ek gaan nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie aangebreek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy in Galilea gebly. Maar nadat sy broers na die fees opgegaan het, het Hy toe ook opgegaan – nie openlik nie, maar in die geheim. Die Jode het toe op die fees na Hom gesoek en gesê: “Waar is daardie man?” En daar was 'n groot geredekawel oor Hom onder die skare. Sommige het gesê: “Hy is 'n goeie mens.” Ander het weer gesê: “Nee, maar hy mislei die skare.” Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Jode. Toe die fees reeds halfpad verby was, het Jesus na die tempelterrein opgegaan en begin onderrig gee. Die Jode was verwonderd en het gesê: “Hoe ken hy die Skrifte sonder dat hy dit bestudeer het?” Jesus antwoord hulle toe: “Wat Ek leer, is nie my eie nie, maar kom van Hom wat My gestuur het. As iemand bereid is om sy wil te doen, sal hy, wat hierdie leer betref, weet of dit van God is en of Ek uit my eie praat. Hy wat uit sy eie praat, soek sy eie eer, maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het – Hy is geloofwaardig en daar is geen onreg in Hom nie. Het Moses nie vir julle die wet gegee nie? En nie een van julle voer die wet uit nie. Waarom probeer julle My dan doodmaak? ” Die skare het geantwoord: “Jy het 'n demoon! Wie probeer jou doodmaak?” Jesus het hulle geantwoord: “Een daad het Ek gedoen, en julle is almal verbaas. Omdat Moses vir julle die besnydenis gegee het – nie dat dit van Moses kom nie, maar van die vaders – besny julle iemand ook op die Sabbat. As iemand op die Sabbat die besnydenis ontvang, sodat die •Wet van Moses nie verbreek word nie, is julle dan vir My kwaad omdat Ek op die Sabbat 'n mens in sy geheel gesond gemaak het? Moenie op die oog af oordeel nie, maar oordeel regverdig. ” Daarop het sommige van Jerusalem se inwoners gesê: “Is hy nie die een wat hulle wil doodmaak nie? Kyk nou, hy praat openlik, en hulle sê niks teen hom nie. Die volksleiers het tog nie regtig ingesien dat hy die Christus is nie? Hierdie man – ons weet tog waar hy vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, weet niemand waarvandaan Hy is nie.” Jesus het toe, terwyl Hy op die tempelterrein onderrig gee, uitgeroep en gesê: “Julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. Tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar Hy wat My gestuur het, vir wie julle nie ken nie, is geloofwaardig. Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.” Hulle wou Hom arresteer; tog het niemand 'n hand op Hom gelê nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie.