Johannes 7:1-13

Johannes 7:1-13 AFR20

Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. Hy wou nie in Judea rondgaan nie, omdat die Jode Hom wou doodmaak. En die Huttefees van die Jode was op hande. Sy broers het toe vir Hom gesê: “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea, sodat jou dissipels ook die dade wat jy verrig, kan sien. Want niemand doen iets in die geheim en wil dan tog in die openbaar bekend wees nie. Indien jy hierdie dinge wil doen, maak dan jouself aan die wêreld bekend.” Trouens, selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. Jesus sê toe vir hulle: “My bestemde tyd is nog nie hier nie, maar julle tyd is altyd op hande. Die wêreld kan julle nie haat nie, maar hy haat My, omdat Ek van hom getuig dat sy dade boos is. Gaan julle op na die fees. Ek gaan nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie aangebreek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy in Galilea gebly. Maar nadat sy broers na die fees opgegaan het, het Hy toe ook opgegaan – nie openlik nie, maar in die geheim. Die Jode het toe op die fees na Hom gesoek en gesê: “Waar is daardie man?” En daar was 'n groot geredekawel oor Hom onder die skare. Sommige het gesê: “Hy is 'n goeie mens.” Ander het weer gesê: “Nee, maar hy mislei die skare.” Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Jode.