Johannes 20:1-11

Johannes 20:1-11 AFR20

En vroegoggend, op die eerste dag van die week, terwyl dit nog donker was, kom Maria Magdalena tot by die graf en sien dat die klip van die graf verwyder is. Sy hardloop toe en gaan na Simon •Petrus en na die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Petrus en die ander dissipel het toe uitgegaan en na die graf gegaan. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk, sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie. Maar toe Simon Petrus wat hom gevolg het, daar aankom, het hy die graf binnegegaan en die linnedoeke daar sien lê, en die doek wat oor sy kop was. Dié doek het nie by die linnedoeke gelê nie, maar was eenkant, afsonderlik opgerol. Toe het ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, binnegegaan, en hy het gesien en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk