Jeremia 40:7-16

Jeremia 40:7-16 AFR20

Toe al die bevelvoerders van die leërafdelings wat nog in die veld was, hulle en hulle manskappe, hoor dat die koning van Babilonië vir Gedalja, seun van Agikam, in die land aangestel het, en dat hy mans, vroue en kinders, en mense uit die armstes van die land, wat nie in ballingskap na Babilonië weggevoer is nie, aan hom toevertrou het, het hulle na Gedalja in Mispa gekom. Dit was Ismael, seun van Netanja, Joganan en Jonatan, seuns van Kareag, asook Seraja, seun van Tangumet, en die seuns van Efai uit Netofa, en ook Jesanja, seun van 'n man uit Maäga – hulle en hulle manskappe. Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, het vir hulle en hulle manskappe 'n eed afgelê: “Moenie bang wees om die Galdeërs te dien nie. Bly in die land en dien die koning van Babilonië, dan sal dit goed gaan met julle. Wat my betref – kyk, ek gaan in Mispa bly in diens van die Galdeërs, wat na ons toe sal kom. Maar julle, samel wyn, somervrugte en olyfolie in en plaas dit in julle houers! Gaan woon dan in julle dorpe waarvan julle die beheer oorneem!” Ook al die Judeërs wat in Moab en by die Ammoniete en in Edom en al die ander lande was, het gehoor dat die koning van Babilonië 'n oorblyfsel vir Juda agtergelaat het, en dat hy Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, oor hulle aangestel het. Al die Judeërs het toe teruggekeer uit al die plekke waarheen hulle verdryf was. Hulle het na die land van Juda gekom, na Gedalja in Mispa. Hulle het baie groot hoeveelhede wyn en somervrugte ingesamel. Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings wat in die veld was, het na Gedalja in Mispa gekom en vir hom gesê: “Is jy hoegenaamd bewus daarvan dat Baälis, koning van die Ammoniete, vir Ismael, seun van Netanja, gestuur het om jou om die lewe te bring?” Maar Gedalja, seun van Agikam, het hulle nie geglo nie. Joganan, seun van Kareag, het in Mispa in die geheim vir Gedalja gesê: “Laat ek gaan en Ismael, seun van Netanja, doodslaan; niemand sal dit weet nie. Waarom moet hy jou om die lewe bring? Waarom moet die hele Juda wat by jou byeengekom het, verstrooi word, en die oorblyfsel van Juda tot niet gaan?” Maar Gedalja, seun van Agikam, het vir Joganan, seun van Kareag, gesê: “Moenie hierdie ding doen nie, want wat jy oor Ismael sê, is 'n leuen.”