Jeremia 11:1-8

Jeremia 11:1-8 AFR20

Dit is die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: “Luister na die woorde van hierdie verbond, en praat met die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem. Sê vir hulle, ‘So sê die HERE, die God van Israel: “Vervloek is die mens wat nie luister na die woorde van hierdie verbond nie, dit wat Ek julle voorouers beveel het op die dag toe Ek hulle uit Egipteland, uit die ystersmeltoond, uitgelei het met die woorde, ‘Luister na my stem en tree op ooreenkomstig alles wat Ek julle beveel. Julle sal dan my volk wees, en Ek sal julle God wees, sodat Ek die eed gestand kan doen wat Ek vir julle voorouers afgelê het – om vir hulle 'n land te gee wat oorloop van melk en heuning, soos dit vandag is.’ ” ’ ” Ek het daarop geantwoord en gesê: “•Amen, HERE!” Die HERE het vir my gesê: “Roep al hierdie woorde uit in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem, ‘Luister na die woorde van hierdie verbond en voer dit uit! Want Ek het julle voorouers uitdruklik gewaarsku, vanaf die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het, tot vandag toe. Ek het hulle aanhoudend gewaarsku met die woorde: “Luister na my stem!” Maar hulle het nie geluister nie, en nie hulle ore oopgemaak nie. Elkeen van hulle het die verstoktheid van sy bose hart bly volg. Toe het Ek al die vervloekings van hierdie verbond wat Ek hulle beveel het om uit te voer, maar wat hulle nie uitgevoer het nie, oor hulle gebring.’ ”