Hy was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde, maar, soortgelyk aan die •Seun van God, bly hy priester vir altyd.
Kyk net hoe belangrik was hierdie man, dat selfs Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste buit aan hom gegee het! Die nakomelinge van Levi wat die priesterskap ontvang, het 'n gebod dat hulle, volgens wet, tiendes moet ontvang van die volk, naamlik hulle broers, alhoewel dié afstammelinge van Abraham is. Maar Melgisedek, wat nie van hulle afstam nie, het tiendes van Abraham ontvang, en hierdie draer van die beloftes geseën. Sonder enige teenspraak, word die mindere tog deur die meerdere geseën. In die een geval ontvang sterflike mense tiendes, maar in die ander geval hy van wie getuig word dat hy leef. Mens kan selfs sê, ook Levi, wat tiendes ontvang, het deur Abraham tiendes gegee; want Levi was nog in die liggaam van sy voorvader toe Melgisedek Abraham tegemoetgegaan het.
As daar inderdaad deur die Levitiese priesterskap – want daaronder het die volk die wet ontvang – volmaaktheid gekom het, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester opstaan volgens die orde van Melgisedek, eerder as een wat beskryf word as iemand volgens die orde van Aäron? Wanneer daar 'n verandering van priesterskap is, vind daar noodwendig ook 'n verandering van die wet plaas. Want Hy oor wie hierdie dinge gesê word, was deel van 'n ander stam, van wie niemand altaardiens gedoen het nie.
Dit is tog baie duidelik dat ons Here uit Juda voortgespruit het, 'n stam oor wie Moses niks in verband met priesters gesê het nie. Dit is nog duideliker as 'n ander priester opstaan volgens die ewebeeld van Melgisedek – een wat dit nie volgens die voorskrif van 'n menslike gebod geword het nie, maar volgens die krag van onvernietigbare lewe. Daar word trouens getuig:
“Jy is priester vir ewig,
volgens die orde van Melgisedek.”