Die wet bevat immers net 'n afskaduwing van die toekomstige goeie dinge, nie 'n presiese weergawe daarvan nie. Daarom kan dit nooit deur dieselfde offers, wat onophoudelik jaar ná jaar gebring word, diegene wat kom aanbid, tot volmaaktheid bring nie. Sou hulle nie andersins opgehou het om offers te bring, omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie? Maar deur dié offers word hulle nou jaarliks aan hulle sondes herinner; want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik sondes wegneem.
Daarom sê Hy met sy koms na die wêreld:
“Offerande en offergawe
wou U nie hê nie,
maar 'n liggaam het U vir My voorberei;
ja, •brandoffers en •reinigingsoffers
het U nie tevrede gestel nie.
Toe het Ek gesê,
‘Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God!
Dit is in die boekrol oor My geskryf.’ ”
Eers sê Hy hierbo,
“Offerandes en offergawes”,
en “brandoffers en reinigingsoffers
wou U nie hê,
en het U nie tevrede gestel nie” –
dit is wat volgens die wet geoffer word. Dan sê Hy:
“Kyk, hier is Ek om u wil te doen!”
Hy beëindig die eerste, sodat Hy die tweede tot stand kan bring. Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus •Christus, eens en vir altyd.
Elke priester staan wel dag vir dag en diens doen, en bring oor en oor dieselfde offers, wat nooit in staat is om sondes weg te neem nie; maar toe Christus vir altyd een offer ter wille van sondes gebring het, het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Sedertdien wag Hy totdat sy vyande 'n voetbank vir sy voete gemaak word. Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.
Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het,
“Dit is dan die verbond
wat Ek ná daardie dae
met hulle sal sluit, sê die Here:
Ek sal my wette in hulle harte gee,
en dit op hulle verstand neerskryf,”
sê Hy ook:
“Aan hulle sondes
en aan hulle wettelose dade
sal Ek glad nie meer dink nie.”
Waar daar vergifnis hiervoor is, word 'n offer vir sondes nie meer gebring nie.
Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, langs 'n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, en ons het 'n groot Priester oor die huis van God. Laat ons daarom ingaan met 'n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van 'n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water. Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou.