Genesis 3:9-15

Genesis 3:9-15 AFR20

Die HERE God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” Hy het geantwoord: “Ek het U in die tuin hoor beweeg, en ek was bang, want ek is naak; toe het ek weggekruip.” Hy vra toe: “Wie het vir jou vertel dat jy naak is? Het jy van die boom geëet waaroor Ek jou beveel het dat jy nie daarvan mag eet nie?” Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U gegee het om aan my sy te wees, sy is die een wat vir my van die boom gegee het, en ek het geëet.” Die HERE God vra toe vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” Die vrou het geantwoord: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.” Toe sê die HERE God vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die mak diere en al die diere van die veld; op jou pens sal jy seil, en stof sal jy eet, solank jy leef. Vyandskap sal Ek tussen jou en die vrou stel, en tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou kop aanval, en jy sal sy hakskeen aanval.”

Video for Genesis 3:9-15