Genesis 18:9-15

Genesis 18:9-15 AFR20

Hulle het vir hom gevra: “Waar is Sara, jou vrou?” Hy het geantwoord: “Daar in die tent.” Toe sê een: “Ek sal beslis na jou terugkom wanneer die seisoen draai. Kyk, Sara, jou vrou, sal dan 'n seun hê.” Sara het gestaan en luister by die ingang van die tent, wat agter hom was. Abraham en Sara was al oud, gevorderd in jare. Vir Sara het wat maandeliks met vroue gebeur, reeds opgehou. Sy het in haar binneste gelag en gedink: “Kan ek nog seksuele begeertes hê, noudat ek al afgetakel en my man oud is?” Toe vra die HERE vir Abraham: “Waarom het Sara gelag en dink sy, ‘Sal ek werklik nog geboorte kan gee terwyl ek al oud is?’ Is enigiets te wonderbaarlik vir die HERE? Op die vasgestelde tyd wanneer die seisoen draai, sal Ek na jou toe terugkom, en dan sal Sara 'n seun hê.” Sara het dit egter ontken en gesê: “Ek het nie gelag nie,” want sy was bang. Hy het gesê: “Nee, maar jy hét gelag.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Genesis 18:9-15