Galasiërs 5:2-12

Galasiërs 5:2-12 AFR20

Kyk, ek, Paulus, sê nou vir julle: As julle julle laat besny, sal •Christus vir julle waardeloos wees. Ek getuig weer teenoor elkeen wat hom laat besny, dat hy verplig is om die hele wet te onderhou. Julle wat op grond van die wet geregverdig wil word, julle is van Christus afgesny – julle het die genade verbeur! Want dit is deur die Gees, op grond van die geloof, dat ons die vryspraak verwag waarop ons hoop. Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde werksaam is. Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om aan die waarheid gehoorsaam te bly? Dié oorreding kom nie van Hom wat julle roep nie. 'n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur. Wat julle betref: Ek is in die Here daarvan oortuig dat julle nie anders as ek sal dink nie; maar die een wat julle in verwarring bring, sal die straf dra, wie hy ook al mag wees. En ek, broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis immers uit die weg geruim. Ek wens diegene wat julle so opstandig maak, wil hulleself heeltemal ontman!