Esegiël 22:23-30

Esegiël 22:23-30 AFR20

Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, sê vir die land, ‘Jy is 'n land wat nie rein verklaar kan word nie, wat op die dag van vervloeking sy reën nie kry nie, wie se leiers in hom soos brullende leeus is wat 'n prooi verskeur – lewens verslind hulle; skatte en kosbaarhede vat hulle; weduwees in die land maak hulle meer.’ Sy priesters doen my wet geweld aan; hulle ontheilig wat vir My heilig is; tussen wat heilig en wat onheilig is, maak hulle geen onderskeid nie; die verskil tussen rein en onrein maak hulle nie bekend nie. Vir my Sabbatte sluit hulle die oë, en my heiligheid word aangetas onder hulle. Die •hoë amptenare van die land is in hom soos wolwe wat 'n prooi verskeur – om bloed te vergiet en lewens te vernietig, sodat hulle onregverdige wins kan maak. Sy profete pleister alles vir hulle toe met kalk: Hulle sien vals visioene en voorspel leuens. Hulle sê altyd, ‘So sê my Heer, die HERE,’ terwyl die HERE nie gepraat het nie. Die volk van die land buit mense uit en beroof hulle. Die magteloses en behoeftiges verdruk hulle, en vreemdelinge pers hulle af asof hulle geen regte het nie. “ Ek het onder hulle iemand gesoek wat 'n klipmuur kan pak en wat voor My in die bres kan tree vir die land, sodat Ek dit nie verwoes nie, maar Ek kon niemand kry nie.