Ester 4:5-17

Ester 4:5-17 AFR20

Ester het toe vir Hatag, een van die koning se eunugs wat hy tot haar beskikking gestel het, ontbied. Sy het hom beveel om uit te vind wat aangaan en waarom Mordegai so optree. Hatag het uitgegaan na Mordegai op die stadsplein voor die koningspoort. Mordegai het hom ingelig oor alles wat met hom gebeur het, insluitend die presiese bedrag silwer wat Haman beloof het om aan die skatkis van die koning te betaal vir die uitwissing van die Jode. Hy het ook 'n afskrif van die geskrewe wet wat in Susan uitgevaardig is om die Jode uit te wis, vir Hatag gegee om aan Ester te wys en die inhoud aan haar mee te deel. Hatag moes haar aansê om na die koning te gaan en hom om genade te smeek en te pleit vir haar volk. Hatag het teruggegaan na Ester en Mordegai se boodskap aan haar oorgedra. Ester het Hatag beveel om vir Mordegai te sê: “Al die dienaars van die koning en al die mense van die provinsies van die koning weet dat daar vir enige man of vrou wat na die koning in sy binneste voorhof gaan sonder dat hulle ontbied is, net een reël geld en dit is dat die persoon doodgemaak word. Die enigste uitsondering is wanneer die koning sy goue septer na die persoon uithou en op hierdie manier so iemand se lewe spaar. En ek, ek is nou al dertig dae lank nie na die koning ontbied nie.” Toe Ester se woorde aan Mordegai oorgedra is, het Mordegai haar laat weet: “Moenie dink dat net jy, van al die Jode, sal ontkom omdat jy in die koninklike paleis woon nie. Want as jy wel in hierdie tyd sou swyg, sal daar uitkoms en redding vir die Jode van 'n ander plek af kom; maar jy en jou familie sal omkom. En wie weet of jy nie juis vir 'n tyd soos hierdie koninklike status verkry het nie?” Ester het toe vir Mordegai laat weet: “Gaan versamel al die Jode wat hulle in Susan bevind, en vas ter wille van my. Moet drie dae lank, dag en nag, niks eet of drink nie; ook ek en my diensmeisies sal so vas. Daarna sal ek na die koning gaan, al is dit teen die wet. As ek so moet omkom, kom ek so om.” Mordegai het toe weggegaan en gedoen net soos Ester hom beveel het.