Daarop het Daniël ingegaan na Ariog, vir wie die koning aangestel het om die wyses van Babilonië om die lewe te bring. Hy het so vir hom gesê: “Moenie die wyse manne van Babilonië om die lewe bring nie; bring my voor die koning, dan sal ek vir die koning die uitleg gee.” Ariog het toe in groot haas vir Daniël voor die koning gebring en so vir hom gesê: “Ek het 'n man gevind onder die ballinge van Juda wat die uitleg aan die koning bekend kan maak.”
Die koning het daarop geantwoord deur vir Daniël, wie se naam Beltsasar was, te sê: “Is jy in staat om die droom wat ek gehad het en sy uitleg aan my bekend te maak?” Daniël het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Die geheim waaroor die koning navraag doen, kan die wyses, towenaars, waarsêerpriesters en voorspellers nie vir die koning uitlê nie. Daar is egter 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het aan u, koning Nebukadnesar, bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom, die visioene in u kop terwyl u in u bed was, is die volgende: U, o koning – u gedagtes wat in u bed by u opgekom het, gaan oor wat hierna sal gebeur. Hy wat geheime openbaar, het aan u bekend gemaak wat sal gebeur. En wat my betref, hierdie geheim is aan my geopenbaar, nie deur wysheid wat by my meer sou wees as by al die lewendes nie, maar ter wille daarvan dat die uitleg aan die koning bekend gemaak sal word, en u die gedagtes van u hart kan ken. U, o koning, het 'n visioen gehad: Kyk, daar was 'n groot beeld. Hierdie beeld was groot, en sy glans buitengewoon. Dit het voor u gestaan; die voorkoms daarvan was vreesaanjaend. Hierdie beeld – sy kop was van die beste goud, sy bors en arms was van silwer, sy maag en heupe van koper, sy bene van yster, sy voete deels van yster en deels van klei. U het nog gekyk, toe daar 'n klip vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie. Dit het die beeld teen sy voete van yster en klei getref en verpletter. Daarop is die yster, koper, silwer en goud saam verpletter, en dit het geword soos kaf vanaf die dorsvloere in die somer. Die wind het dit weggewaai, en geen spoor daarvan kon gevind word nie. Maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot berg geword en die hele aarde gevul. Dit was die droom, en oor die uitleg daarvan sal ons nou voor die koning praat. U, o koning, is die koning van die konings aan wie die God van die hemel die koningskap, die mag, die krag en eer gegee het. Ja, waar ook al mense, die diere van die veld en die voëls van die hemel woon, het Hy hulle in u hand gegee. Hy het u as heerser oor hulle almal aangestel. U is die kop van goud. Ná u sal 'n ander koninkryk tot stand kom, geringer as u s'n, dan 'n ander, derde koninkryk van koper, wat oor die hele aarde sal heers. Die vierde koninkryk sal so sterk soos yster wees. Omdat yster alles verpletter en vermorsel, sal hierdie koninkryk, soos yster wat vergruis, al daardie ander verpletter en vergruis. Dat u gesien het dat die voete en tone deels van pottebakkersklei en deels van yster is, dui op 'n verdeelde koninkryk. Van die bestendigheid van die yster sal daarin wees, want u het die yster gemeng met die klam klei gesien. En die tone van die voete wat deels van yster en deels van klei is – 'n deel van die koninkryk sal sterk wees, en 'n deel daarvan sal breekbaar wees. Dat u die yster gemeng met die klam klei gesien het, dui daarop dat die mense deur ondertrouery vermeng sal raak. Hulle sal egter nie vanself aan mekaar vaskleef nie, net soos yster nie met klei meng nie. In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan 'n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot 'n einde bring, en dit sal standhou vir ewig. U het daarom gesien dat 'n klip uit die berg vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie, en dat dit die yster, koper, klei, silwer en goud verpletter. 'n Groot God het aan die koning bekend gemaak wat hierna gaan gebeur. Die droom is waar en die uitleg daarvan is betroubaar.”
Daarop het koning Nebukadnesar neergeval met sy gesig teen die grond en aan Daniël eer betoon. Hy het opdrag gegee dat 'n •graanoffer en offers met 'n aangename geur aan hom gebring moet word. Die koning het in sy reaksie vir Daniël gesê: “Sowaar, julle God, Hy is die God van die gode en die Heer van die konings en die een wat geheime openbaar, want jy kon hierdie geheim openbaar.”
Die koning het Daniël toe in 'n hoë pos aangestel en aan hom baie groot geskenke gegee. Hy het hom as heerser aangestel oor die hele provinsie Babel, en as landvoog bo al die wyses van Babilonië. Daniël het 'n versoek tot die koning gerig, en dié het toe vir Sadrag, Mesag en Abednego aangestel oor die administrasie van die provinsie Babel. Daniël het egter in die koninklike hof aangebly.