Die toorn van die HERE het weer teen Israel ontbrand. Hy het Dawid teen hulle opgesteek met die woorde: “Gaan tel Israel en Juda.” Toe sê die koning vir Joab, die leëraanvoerder wat by hom was: “Gaan rond onder al die stamme van Israel, van Dan tot Berseba, en maak 'n opname van die manskappe, sodat ek kan weet hoeveel manskappe daar is.” Maar Joab het vir die koning gesê: “Mag die HERE u God by die manskappe nog 'n honderd maal soveel byvoeg as wat hulle is, terwyl my heer die koning dit sien! Maar, my heer die koning, waarom wil u dit so graag doen?” Die koning se woord het egter meer gewig gedra as dié van Joab en die leëraanvoerders, en Joab en die leëraanvoerders het van die koning af uitgegaan om 'n opname te maak van die manskappe in Israel. Hulle het die Jordaan oorgesteek en kamp opgeslaan by Aroër, suid van die dorp in die middel van die dal Gad, aan die kant van Jaeser. Daarna het hulle in Gilead ingegaan, na die streek van Tagtim-Godsi. Hulle het in Dan-Jaän aangekom en weggedraai na Sidon. Toe het hulle by die versterkte stad Tirus aangekom, en ook by al die dorpe van die Hewiete en Kanaäniete, en daarna uitbeweeg na die suide van Juda by Berseba. So het hulle rondgegaan deur die hele land, en ná nege maande en twintig dae weer in Jerusalem aangekom. Joab het die getal van die manskappe waarvan 'n opname gemaak is, aan die koning oorhandig: In Israel was daar agthonderdduisend weerbare manne gewapen met swaarde, en die weerbare manne van Juda was vyfhonderdduisend man. Maar Dawid se gewete het hom gepla nadat hy die manskappe getel het. Dawid sê toe vir die HERE: “Ek het ernstig gesondig deur wat ek gedoen het. HERE, skeld nou asseblief die sondeskuld van u dienskneg kwyt, want ek het baie dwaas opgetree.”
Lees 2 Samuel 24
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Samuel 24:1-10
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's