2 Samuel 12:19-25

2 Samuel 12:19-25 AFR20

Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: “Is die kind dood?” Hulle het gesê: “Ja, hy is.” Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die HERE ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: “Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.” Hy het geantwoord: “Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die HERE is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” Dawid het sy vrou, Batseba, getroos. Hy het na haar toe gegaan, by haar geslaap, en sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Hy het hom Salomo genoem. Die HERE was lief vir hom en het deur Natan, die profeet, 'n boodskap gestuur. Hy het hom Jedidja genoem op aandrang van die HERE.