2 Konings 24:10-17

2 Konings 24:10-17 AFR20

In daardie tyd het die dienaars van Nebukadnesar, die koning van Babilonië, opgetrek teen Jerusalem, en die stad was onder beleg. Toe Nebukadnesar, die koning van Babilonië, by die stad kom terwyl sy dienaars dit beleër het, het Jojagin, die koning van Juda, uitgegaan na die koning van Babilonië, hy en sy moeder, sy dienaars, •hoë amptenare en eunugs. Die koning van Babilonië het hom gevange geneem in die agtste jaar van sy regering. Nebukadnesar het al die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die koninklike paleis daarvandaan weggevoer. Hy het al die goue voorwerpe wat Salomo, koning van Israel, in die •tempel van die HERE gemaak het, verpletter, soos die HERE gesê het. Hy het die hele Jerusalem in ballingskap weggevoer, al die hoë amptenare en al die vermoënde mense – tienduisend ballinge – ook al die vakmanne en smede. Niemand behalwe die armes uit die volk van die land het oorgebly nie. Hy het Jojagin in ballingskap weggevoer na Babel. Die moeder van die koning, die vroue van die koning, sy eunugs en die burgers van die land het hy as ballinge van Jerusalem na Babel laat gaan. Al die bekwame manne, seweduisend van hulle, en die vakmanne en smede, duisend van hulle, asook al die krygshelde wat kon oorlog voer, het die koning van Babilonië as ballinge na Babel geneem. Die koning van Babilonië het toe Mattanja, Jojagin se oom, in sy plek koning gemaak, en sy naam verander na Sedekia.