2 Korinthiërs 7:2-11

2 Korinthiërs 7:2-11 AFR20

Maak vir ons ruimte. Ons het niemand veronreg nie; ons het niemand skade berokken nie; ons het niemand uitgebuit nie. Ek sê dit nie om julle te veroordeel nie – ek het vantevore al gesê dat julle in ons harte is om saam te sterf en saam te leef. Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle, en is baie trots op julle. Ek is nou vol moed, en loop oor van blydskap te midde van al ons verdrukking. Want selfs nadat ons in Macedonië gekom het, het ons liggaamlik geen rus gehad nie, en het ons van alle kante verdrukking ervaar – van buite aanslae, en van binne angs. Maar God, wat die neerslagtiges bemoedig, het ons bemoedig deur die koms van Titus – en nie net deur sy koms nie, maar ook deur die bemoediging waarmee hy oor julle bemoedig is. Hy het ons kom vertel van julle verlange, van julle berou, van julle ywer vir my, sodat ek my nou nog meer verheug. Want al het ek julle met die brief bedroef gemaak, is ek nie spyt nie. En al was ek ook spyt – want ek sien dat daardie brief julle bedroef gemaak het, al was dit ook net vir 'n rukkie – is ek nou bly; nie omdat julle bedroef gemaak is nie, maar omdat julle droefheid tot berou gelei het. Julle is volgens die wil van God bedroef gemaak, met die gevolg dat julle in geen opsig deur ons benadeel is nie. Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood. Want kyk nou net watter toewyding julle droefheid volgens die wil van God vir julle bewerk het: ja, watter verontskuldiging, watter verontwaardiging, watter ontsag, watter verlange, watter ywer, watter bestraffing! In elke opsig het julle getoon dat julle onskuldig is wat hierdie saak betref.