2 Korinthiërs 1:12-24

2 Korinthiërs 1:12-24 AFR20

Ons roem is juis dit: die getuienis van ons gewete dat ons in die wêreld, en veral teenoor julle, opgetree het in opregtheid en met eerlikheid wat van God kom – ook nie deur menslike wysheid nie, maar deur die genade van God. Ons skryf immers aan julle niks anders as wat julle lees en ook verstaan nie. En ek hoop dat julle later ten volle sal verstaan – soos julle ons ook ten dele verstaan het – dat ons op die dag van ons Here Jesus julle tot roem sal wees, net soos julle ook vir ons. In hierdie vertroue wou ek vroeër na julle kom, sodat julle 'n tweede guns kon ontvang. Ek wou by julle langs deurreis na Macedonië, om weer van Macedonië af na julle terug te kom, en deur julle na Judea toe voortgehelp te word. Ek het tog nie ligtelik gehandel toe ek my dit voorgeneem het nie? Of beplan ek wat ek beplan uit menslike swakheid, sodat, wat my betref “ja, ja” tegelyk “nee, nee” kan wees? Maar God is getrou – ons woorde aan julle is nie tegelyk “ja” en “nee” nie; want Jesus •Christus, die •Seun van God, wat deur ons aan julle verkondig is, deur my en Silvanus en Timoteus, was nie “ja” én “nee” nie – inteendeel, in Hom het dit “ja” geword. Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom “•amen” aan God, tot sy eer. Dit is God wat ons saam met julle in Christus 'n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het. Wat my betref, ek roep God as getuie oor my dat ek juis om julle te spaar, nog nie weer na Korinthe gekom het nie. Nie dat ons oor julle geloof wil baasspeel nie – inteendeel, ons is medewerkers aan julle vreugde. Julle staan immers vas in die geloof.