1 Timoteus 6:1-21

1 Timoteus 6:1-21 AFR20

Wie onder die slawejuk gebuk gaan, moet met alle respek teenoor hulle eienaars optree, sodat die Naam van God en die leer nie belaster word nie. Diegene wat gelowige eienaars het, mag hulle nie verag nie, omdat hulle broers is; laat hulle nog meer diensbaar wees, juis omdat dit gelowiges en geliefdes is wat dié goeie diens ontvang. Onderrig die mense hierin, en moedig hulle aan om dit te doen. As iemand 'n ander leer verkondig, en hom nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus •Christus, en by die leer wat met die ware godvresendheid ooreenstem nie, is hy verwaand en sonder begrip, en het hy eerder 'n sieklike aptyt vir meningsverskille en stryery oor woorde. Dit lei tot afguns, rusie, lastering, bose suspisies, aanhoudende geredekawel onder mense wie se denke ontaard het, en wat van die waarheid beroof is, en dink dat godvresendheid winsgewend is. Wat wel 'n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie; maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. Wie ryk wil wees, val in versoeking en 'n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na •geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. Ek beveel jou voor God, wat aan alles lewe gee, en •Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius •Pilatus gelewer het, dat jy die opdrag suiwer en onberispelik sal uitvoer, tot die verskyning van ons Here Jesus Christus, wat God op sy eie tyd sal openbaar – Hy, die lofwaardige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die heersers, Hy wat alleen onsterflikheid besit, ontoeganklike lig bewoon, en vir wie geen mens ken of kan sien nie – aan Hom kom die eer en ewige krag toe. •Amen. Beveel die rykes in die huidige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie, en nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te vestig nie, maar op God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet. Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees, om sodoende vir hulleself 'n skat op te bou as goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe kan verkry. O Timoteus, bewaar jou pand! Vermy goddelose en leë praatjies, en die teenstrydighede van wat valslik as kennis bestempel word. Omdat sommige mense dit bely het, het hulle van die geloof afgedwaal.