Die seun Samuel was in diens van die HERE onder toesig van Eli. 'n Woord van die HERE was seldsaam in daardie dae; geen visioene het voorgekom nie. In daardie tyd het Eli op sy gewone plek gelê. Sy oë het al begin swak word, hy kon nie meer sien nie. Die lamp van God was nog nie dood nie, en Samuel het al gaan lê in die •tempel van die HERE waar die ark van God was. Toe roep die HERE na Samuel en hy het geantwoord: “Hier is ek!” Hy hardloop toe na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie. Gaan lê maar weer.” Hy het toe gaan lê. Die HERE roep toe weer: “Samuel!” Samuel het opgestaan, na Eli gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Maar hy antwoord: “Ek het nie geroep nie, my seun. Gaan lê maar weer.” Samuel het nog nie die HERE geken nie, en die woord van die HERE was nog nie aan hom geopenbaar nie. Die HERE roep toe weer na Samuel vir die derde maal. Hy staan toe op, gaan na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Eli besef toe dat dit die HERE is wat na die seun roep. Eli sê toe vir Samuel: “Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy sê, ‘Spreek, HERE, want u dienskneg luister.’ ” Samuel gaan toe en gaan lê op sy plek. Die HERE het gekom en gaan staan, en geroep soos die vorige kere: “Samuel! Samuel!” Samuel het geantwoord: “Spreek, want u dienskneg luister.” Die HERE sê toe vir Samuel: “Kyk, Ek gaan iets doen in Israel wat elkeen wat dit hoor, se twee ore sal laat tuit. Op daardie dag sal Ek teenoor Eli alles vervul wat Ek oor sy huis aangekondig het, van die begin tot die einde. Ek wil aan hom bekend maak dat Ek vir altyd sy huis gaan oordeel oor die sondeskuld waarvan hy geweet het. Want terwyl sy seuns God gelaster het, het hy hulle nie tereggewys nie. Daarom lê Ek 'n eed af teenoor die huis van Eli: Die sondeskuld van Eli se huis sal vir ewig nie versoen kan word deur slagoffer en •graanoffer nie. ”
Lees 1 Samuel 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Samuel 3:1-14
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's