Daar was 'n man in Maon wie se boerdery in Karmel was. Dié man was baie ryk. Hy het drieduisend skape en duisend bokke gehad. Hy was juis besig om sy skape te skeer in Karmel.
Die man se naam was Nabal en sy vrou se naam was Abigajil. Die vrou het 'n goeie verstand en 'n mooi voorkoms gehad; maar die man was hard en 'n boosdoener. Hy was 'n afstammeling van Kaleb.
Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal besig is om sy skape te skeer, het hy tien jong manne afgevaardig. Dawid het vir die jong manne gesê: “Gaan op na Karmel en gaan dan na Nabal. Vra namens my hoe dit met hom gaan en sê dan so, ‘Voorspoed! Vrede vir u! Vrede vir u huis en vir alles wat aan u behoort! Ek hoor nou dat hulle besig is om vir u te skeer. Wel, die herders wat aan u behoort, was saam met ons. Ons het hulle nie verneder nie, en hulle het niks vermis die hele tyd wat hulle in Karmel was nie. Vra maar vir u jong manne en hulle sal dit vir u bevestig. Laat my jong manne dan nou guns vind in u oë, want dit is 'n goeie dag waarop ons gekom het. Gee dan asseblief wat u byderhand het vir u dienaars en vir u seun, vir Dawid.’ ”
Die jong manne van Dawid het daar aangekom, aan Nabal al hierdie woorde namens Dawid oorgedra, en toe gewag. Maar Nabal het die dienaars van Dawid geantwoord en gesê: “Wie is Dawid? Wie is die seun van Isai? Daar is deesdae baie slawe wat dros; amper elkeen loop weg van sy baas af. Moet ek nou my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, vat en dit vir manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie?”
Die jong manne van Dawid het in hulle spore omgedraai. Hulle het teruggegaan en toe hulle by Dawid aankom, het hulle al hierdie woorde aan hom oorgedra. Dawid sê toe vir sy manne: “Gord elkeen van julle sy swaard aan!” Elkeen het sy swaard aangegord, en ook Dawid het sy swaard aangegord. Ongeveer vierhonderd man het agter Dawid aan opgetrek, en tweehonderd het by die pakgoed gebly.
Vir Abigajil, die vrou van Nabal, het een van die jong manne intussen berig gebring: “Kyk, Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om ons heer te groet, en hy het hulle uitgeskel. Maar die manne was baie goed vir ons. Ons is nie verneder nie, en het niks vermis nie, die hele tyd wat hulle saam met ons rondgetrek het toe ons in die veld was. Hulle was 'n muur om ons, snags sowel as bedags, die hele tyd wat ons by hulle was terwyl ons die skape oppas. Daarom, oorweeg dit en kyk wat u kan doen, want onheil wag op ons heer en sy hele huis. En hy is te veel van 'n skobbejak dat 'n mens met hom kan praat.”
Abigajil het gou gemaak; sy het tweehonderd brode, twee kruike wyn, vyf voorbereide skape, vyf sea geroosterde graan, honderd blokke saamgeperste rosyne en twee honderd blokke saamgeperste droë vye geneem en dit op donkies gelaai. Sy sê toe vir haar diensmeisies: “Gaan voor my uit. Kyk, ek kom agterna.” Vir haar man Nabal het sy egter nie daarvan vertel nie.
Terwyl sy op die donkie ry en onder die beskutting van die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis af in haar rigting, sodat sy hulle ontmoet. Dawid het gedink: “Ek het beslis pure verniet alles wat aan hierdie man behoort, in die woestyn opgepas, sodat daar niks van alles wat aan hom behoort, vermis geraak het nie. Hy vergeld my kwaad vir goed. Mag God my, Dawid, swaar straf as ek van almal wat aan hom behoort, een mansmens tot môreoggend laat oorbly.”
Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy vinnig van die donkie afgeklim, voor Dawid neergeval en diep neergebuig met haar gesig teen die grond. Sy het by sy voete neergeval en gesê: “Die blaam rus op my, my heer. Laat my, u dienares, asseblief direk met u praat en luister na die woorde van u dienares. My heer moet hom tog nie steur aan Nabal nie, daardie skobbejak van 'n man, want soos sy naam is, so is hy. Sy naam is Nabal, en die dwaasheid loop saam met hom. Maar ek, u dienares, het nie die jong manne van my heer, wat u gestuur het, gesien nie. En nou, my heer, so waar as die HERE leef, en u leef – die HERE, wat u daarvan weerhou het om by bloedskuld betrokke te raak deur met u eie hand 'n oorwinning vir uself te behaal – mag dit nou met u vyande en met hulle wat daarop uit is om my heer kwaad aan te doen, gaan soos met Nabal. En nou, wat hierdie buitengewone geskenk betref wat u slavin vir my heer gebring het, laat dit gegee word aan die jong manne wat in my heer se voetspore volg. Vergewe asseblief die oortreding van u dienares.
“Aangesien die HERE beslis vir my heer 'n bestendige huis sal vestig, omdat my heer die oorloë van die HERE voer, mag onheil nie naby u kom solank u leef nie! En wanneer mense opstaan om u te agtervolg en u lewe bedreig, mag die lewe van my heer dan toegebind wees in die sakkie van die lewendes by die HERE, u God. Maar die lewens van u vyande, mag Hy dit wegslinger uit die holte van 'n slingervel.
“ Wanneer die HERE aan my heer al die goeie doen wat Hy oor u uitgespreek het, en Hy u aanstel as leier oor Israel, sal hierdie saak nie daar wees as 'n hindernis vir u en as 'n struikelblok in die gedagtes van my heer nie, dat u sonder rede onskuldige bloed vergiet het en dat my heer vir homself 'n oorwinning behaal het nie. En wanneer die HERE aan my heer goed doen, moet u aan u dienares dink. ”
Toe sê Dawid vir Abigajil: “Die HERE, die God van Israel, moet geprys word, Hy wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet! Jou goeie oordeel moet geprys word, en jy moet geprys word, omdat jy my vandag daarvan weerhou het om in bloedskuld betrokke te raak en met my eie hand vir myself 'n oorwinning te behaal. Maar aan die ander kant, so waar as die HERE, die God van Israel leef – Hy wat my daarvan weerhou het om jou kwaad aan te doen – sou daar, as jy my nie so gou tegemoetgekom het nie, sonder twyfel teen die môrelig nie 'n enkele mansmens van Nabal oorgebly het nie.”
Dawid het toe dit wat sy vir hom gebring het, uit haar hand aanvaar en vir haar gesê: “Gaan in vrede op na jou huis. Kyk, ek het na jou geluister en ek is jou goedgesind. ”