1 Samuel 19:1-24

1 Samuel 19:1-24 AFR20

Saul het vir sy seun Jonatan en vir al sy amptenare gesê om Dawid dood te maak, maar Jonatan, Saul se seun, het baie van Dawid gehou. Jonatan het dit vir Dawid gaan vertel: “My pa, Saul, is daarop uit om jou dood te maak. Wees daarom asseblief môreoggend versigtig. Gaan sit op 'n geheime plek; kruip weg. Ek sal uitkom en langs my pa gaan staan in die veld waar jy is. Ek sal met my pa oor jou praat. As ek iets agterkom, sal ek jou laat weet.” Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by sy vader, by Saul. Hy het vir hom gesê: “Die koning moet tog nie verkeerd doen wat sy dienaar Dawid betref nie, want hy het niks verkeerds teenoor u gedoen nie. Trouens, sy optrede was grootliks tot u voordeel. Hy het sy lewe in sy hand geneem en die Filistyn verslaan; en die HERE het 'n groot oorwinning bewerk vir die hele Israel. U het dit gesien en was verheug. Waarom sal u dan verkeerd doen deur onskuldige bloed te stort en Dawid sonder rede doodmaak?” Saul het na Jonatan geluister; en Saul het 'n eed afgelê: “So waar as die HERE leef, hy sal nie doodgemaak word nie!” Jonatan het Dawid geroep, en Jonatan het hom alles vertel wat gesê is. Jonatan het Dawid na Saul geneem, en hy was in sy diens soos voorheen. Daar het weer oorlog uitgebreek, en Dawid het uitgetrek en teen die Filistyne geveg. Hy het 'n groot slagting onder hulle aangerig, en hulle het voor hom gevlug. 'n Bose gees van die HERE het oor Saul gekom terwyl hy in sy huis gesit het met sy vegspies in sy hand. Dawid was besig om op die lier te speel. Saul het probeer om Dawid met die vegspies teen die muur vas te pen, maar hy het hom ontwyk, en Saul het die vegspies in die muur vas gegooi. Dawid het toe padgegee en daardie nag ontvlug. Saul het gesante na Dawid se huis gestuur om dit dop te hou en hom die volgende oggend dood te maak. Maar Dawid se vrou, Migal, het hom ingelig en gesê: “As jy nie vannag vir jou lewe vlug nie, is jy môre dood.” Migal het Dawid toe deur 'n venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap. Migal neem toe die huisgod, sit dit in die bed met 'n net van bokhaar by sy kop, en bedek dit met 'n kledingstuk. Toe Saul gesante stuur om Dawid te vang, het sy gesê: “Hy is siek.” Saul stuur toe die gesante om self vir Dawid te sien, en sê: “Bring hom met bed en al na my toe, sodat ek hom kan doodmaak.” Toe die gesante ingaan – daar lê die huisgod in die bed met die net van bokhaar by sy kop! Saul sê toe vir Migal: “Waarom het jy my op so 'n manier mislei en my vyand laat gaan dat hy kon ontsnap?” Maar Migal het Saul geantwoord: “Hy het vir my gesê, ‘Laat my wegkom! Waarom moet ek jou doodmaak?’ ” Dawid het gevlug. Hy het ontsnap en by Samuel in Rama aangekom. Hy het Samuel alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Hy en Samuel het toe gegaan en in Najot gaan bly. Saul is toe meegedeel: “Kyk, Dawid is in Najot in Rama.” Daarop stuur Saul gesante om Dawid te gaan vang. Toe hulle die groep profete in geestesvervoering sien, met Samuel wat daar staan as hulle voorganger, het die Gees van God oor Saul se gesante gekom, en ook hulle het in geestesvervoering geraak. Toe dit aan Saul meegedeel is, het hy ander gesante gestuur, maar ook hulle het in •geestesvervoering geraak. Saul het weer, vir die derde keer, gesante gestuur, en ook hulle het in geestesvervoering geraak. Hy het toe ook self na Rama gegaan. Toe hy aankom by die groot opgaarput wat by Segu is, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?” Iemand het geantwoord: “Daar in Najot in Rama.” Hy gaan toe daarheen, na Najot in Rama. Maar die Gees van God het ook oor hom gekom, en terwyl hy aanstap, het hy in geestesvervoering geraak – totdat hy in Najot in Rama aangekom het. Ook hy het sy klere uitgetrek, en ook hy was in geestesvervoering in Samuel se teenwoordigheid. Daardie hele dag en nag het hy kaal daar gelê. Daarom word daar gesê: “Is Saul ook onder die profete?”