1 Petrus 3:3-15

1 Petrus 3:3-15 AFR20

Julle skoonheid moet nie op uiterlike dinge berus nie – soos die vleg van hare, die dra van goue juwele, of die aantrek van elegante klere nie; maar op dit wat in die mens se hart verborge is – die onverganklike skoonheid van 'n saggeaarde en rustige gees, wat in God se oë baie kosbaar is. So het ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself immers destyds versier deur aan hulle eie mans onderdanig te wees – soos Sara aan Abraham gehoorsaam was, toe sy hom as “heer” aangespreek het. Julle het haar dogters geword, as julle doen wat goed is, en julle nie deur enige dreigement laat afskrik nie. Net so, mans, moet julle in julle lewe saam met julle vroue begrip toon vir hulle, as die swakker geslag, en hulle, as mede-erfgename van die gawe van die lewe, met respek behandel, sodat julle gebede deur niks belemmer word nie. Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar, inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry. Immers, “wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef – laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, en sy lippe daarvan om bedrog te spreek, en laat hy afwyk van die kwaad, en die goeie doen, laat hy vrede soek en dit najaag; want die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke, maar die aangesig van die Here is teen dié wat verkeerde dinge doen.” Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. Inteendeel, eerbiedig •Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef.