1 Konings 6:14-22
1 Konings 6:14-22 AFR20
Toe Salomo die tempel klaar gebou het, het hy teen die mure van die tempel aan die binnekant 'n raamwerk van sederhoutplanke aangebring, van die vloer van die tempel tot by die dakbalke van die plafon, en dit toe met hout bedek. Die vloer van die tempel het hy met sipreshout bedek. Die twintig el aan die agterkant van die tempel het hy met sederhoutplanke toegebou, van die vloer tot by die dakbalke. Die binnekant daarvan het hy as heiligdom ingerig, as die Allerheiligste. Die tempel self, dit is die hoofvertrek voor die heiligdom, was veertig el lank. Op die sederhout aan die binnekant van die tempel was daar houtsneewerk van •kolokwinte en blomkelke. Alles was van sederhout; geen klip was te sien nie. Die heiligdom binne-in die tempel het hy ingerig om die verbondsark van die HERE daar te plaas. Aan die voorkant was die heiligdom twintig el breed. Dit was twintig el lank en twintig el hoog. Hy het die binnekant met bladgoud oorgetrek. Hy het ook 'n sederhoutaltaar oorgetrek. Salomo het die binnekant van die tempel met bladgoud oorgetrek. Hy het goue kettings voor die heiligdom gespan en die heiligdom met goud oorgetrek. Die hele tempel het hy met goud oorgetrek – die tempel as geheel. Ook die hele altaar wat by die heiligdom hoort, het hy met goud oorgetrek.


