1 Korinthiërs 4:8-16

1 Korinthiërs 4:8-16 AFR20

Julle is mos reeds versadig! Julle is reeds ryk! Sonder ons het julle soos konings begin regeer. Het julle maar waarlik regeer, sodat ons saam met julle kon regeer! Dit lyk vir my of God ons •apostels as die heel laastes aangewys het, asof ons ter dood veroordeel is, omdat ons 'n skouspel geword het vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense. Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus; ons is swak, maar julle sterk; julle geëerd, maar ons sonder eer. Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, is karig geklee, word geslaan, swerf dakloos, en swoeg deur met ons eie hande te werk. Word ons beledig, seën ons; word ons vervolg, verdra ons; word ons belaster, antwoord ons beleefd. Soos die vullis van die wêreld het ons geword, soos die skuim van die samelewing – tot nou toe. Ek skryf nie hierdie dinge om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys. Want selfs al het julle 'n menigte opvoeders in •Christus, het julle nie baie vaders nie. Deur die evangelie het ek in Christus Jesus julle vader geword. Ek doen dus 'n ernstige beroep op julle: Volg my voorbeeld!