1 Korinthiërs 14:26-40

1 Korinthiërs 14:26-40 AFR20

Wat volg hieruit, broers? Wanneer julle saamkom, het elkeen 'n psalm, 'n lering, 'n openbaring, 'n taal of 'n uitleg. Laat alles steeds tot opbou geskied. Wanneer iemand in 'n taal spreek, laat dit verkieslik net twee of drie sprekers wees, om die beurt, en laat iemand dit uitlê; maar as daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, laat hy in die •gemeente swyg. Laat hy met homself en met God praat. Laat twee of drie profete praat, en die ander dit sorgvuldig beoordeel. Indien 'n openbaring gemaak is aan een van die ander wat daar sit, laat die vorige spreker swyg. Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal onderrig en bemoedig kan word. Die geeste van profete is aan profete onderworpe. Want God is nie 'n God van wanorde nie, maar van vrede. So hoort dit in al die gemeentes van die •heiliges. Laat die vroue in die gemeentes swyg, want hulle word nie toegelaat om te praat nie, maar moet hulleself onderwerp, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hulle eie mans daaroor uitvra, want dit is 'n skande vir 'n vrou om in die gemeente te praat. Is die woord van God van julle afkomstig? Of het dit slegs julle bereik? As enigeen meen dat hy 'n profeet is of dat hy geestelik is, behoort hy die dinge wat ek aan julle skryf, as 'n opdrag van die Here te erken. Maar enigeen wat dit misken, word misken. Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer, en moenie die spreek in tale belet nie. Laat alles egter gepas en ordelik verloop.