Romeine 3:9-31

Romeine 3:9-31 ABA

Mag ons sê dat ons onskuldig is en dat ons nie sonde doen nie? Nee, nooit nie! Ek het in die begin van hierdie brief gesê dat almal skuldig is. Ek het gesê almal is vol sonde, die Jode én die mense wat nie Jode is nie. In die Ou Testament is daar geskryf: Niemand doen reg nie, nie een nie. Niemand is verstandig nie, niemand vra wat God wil hê nie. Niemand doen wat God wil hê nie, almal doen verkeerde dinge, nie een mens doen goed nie, niemand nie. Hulle sê dinge wat baie sleg is, hulle praat en dan bedrieg hulle ander mense, hulle woorde is so sleg soos die gif van slange. Hulle hou daarvan om mense te vervloek en om slegte dinge te sê. Hulle hou daarvan om mense dood te maak. Hulle breek alles en hulle maak mense baie seer. Hulle hou nie van vrede nie. Hulle respekteer nie vir God nie. Ons weet dat almal wat God se wette ken, moet doen wat die wette sê. Daarom kan niemand sê hy is onskuldig nie. Ja, God moet al die mense in die wêreld straf, want Hy sal niemand vryspreek omdat hy doen wat die wette sê nie. Die wette wys vir ons wat sonde is, die wette wys niks meer nie. Maar nou het God vir ons kom wys dat Hy mense vryspreek, maar nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. Ons lees daarvan in die Wette van Moses en in die boeke van die profete. God spreek mense vry omdat hulle in Jesus Christus glo. Ja, God spreek almal vry wat glo, dit maak nie saak wie hulle is nie. Want al die mense het sonde gedoen en hulle lewe nie soos God, die Koning, wil hê hulle moet lewe nie, maar God spreek hulle vry omdat Hy baie goed is vir hulle, omdat Christus Jesus hulle vrygemaak het. God het vir Christus laat sterf. Dit is die offer waarmee God die sonde versoen van die mense wat in Christus glo. So het God gewys dat Hy altyd doen wat reg is. Die mense het sonde gedoen in die tyd voordat Christus gekom het, maar God het hulle nie gestraf nie. Hy het die mense nie gou gestraf nie, Hy het gewag tot nou toe om te wys dat Hy mense vryspreek. So wys Hy dat Hy altyd doen wat reg is, Hy wat elke mens vryspreek wat in Jesus glo. Mense mag nie trots wees op hulleself en spog omdat hulle doen wat die wette sê nie, want God spreek hulle nie daaroor vry nie. Hy spreek hulle vry omdat hulle glo. Ja, ons weet God spreek mense vry omdat hulle glo, nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. God is nie net die God van die Jode nie, Hy is ook die God van die heidene. Daar is net een God. Hy sal die mense wat besny is, vryspreek omdat hulle glo, en Hy sal die mense wat nie besny is nie, ook vryspreek omdat hulle glo. Ons sê mense moet glo in Christus. Daarom sê party mense ons sê God se wette beteken niks. Dit is nie waar nie! Nooit nie! God se wette is vir ons belangrik.

Video vir Romeine 3:9-31