Iemand sal miskien vra: “Het God sy volk gelos?” Nee, nooit nie. Julle moet onthou, ek is ook 'n Israeliet, ek is van die nageslag van Abraham. Ek behoort aan die Benjamin-stam. God het nie sy volk gelos nie. Hy het hulle gekies om aan Hom te behoort. Hy het hulle gekies voordat Hy alles gemaak het. Julle moet onthou wat die Ou Testament oor Elia sê. Elia het by God gekla oor die Israeliete. Elia het gesê: “ Here, die Israeliete het u profete doodgemaak, en hulle het u altare afgebreek. Ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.”
Maar God het vir Elia gesê: “ Ek het vir My 7 000 mense laat oorbly wat nie hulle knieë gebuig het en vir Baäl aanbid het nie.”
God het nou ook mense laat oorbly. Dit is die mense wat Hy gekies het om aan Hom te behoort omdat Hy baie goed wil wees vir hulle. God het hulle gekies omdat Hy baie goed wil wees vir hulle, nie omdat hulle goeie dinge gedoen het nie. As God hulle gekies het omdat hulle goeie dinge gedoen het, dan is dit nie regtig genade nie.
Dit beteken: Die Israeliete wou hê God moet hulle vryspreek, maar Hy het dit nie gedoen nie. Hy het party mense gekies en Hy het hulle vrygespreek, maar Hy het die ander mense hardkoppig gemaak. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is:
God het hulle mense gemaak
wat niks kan doen nie,
Hy het vir hulle oë gegee
wat nie sien nie
en ore wat nie hoor nie.
Dit is vandag nog dieselfde.
En Dawid sê in die Ou Testament:
U moet hulle straf
daar by hulle offer-etes,
U moet hulle laat val
soos voëls in vangnette val.
Hulle moet val en seerkry,
U moet hulle straf.
U moet hulle blind maak
sodat hulle nie kan sien nie.
U moet elkeen se rug
krom maak
sodat hulle nooit weer kan
loop nie.
Die Israeliete het sonde gedoen toe hulle nie in Christus geglo het nie. Nou vra ek: Is hulle heeltemal verlore? Nee, nooit nie! Die Israeliete het sonde gedoen, maar omdat hulle sonde gedoen het, het God die heidene gered. Hy het dit gedoen sodat die Israeliete jaloers kan word. Ja, die Israeliete het sonde gedoen, en daarom het die ander mense in die wêreld al die goeie dinge gekry wat God wil gee. Die Israeliete het al die goeie dinge verloor, en die heidene het al die goeie dinge gewen. Nou moet julle dit weet: Wanneer God al die Israeliete red wat Hy wil red, dan sal die heidene nog baie meer goeie dinge kry.
Ek sê vir julle, vir julle wat heidene is: Ek is 'n apostel en God het vir my die werk gegee om na die heidene toe te gaan. Ek doen hierdie werk baie goed en ek hoop die Israeliete word jaloers wanneer hulle sien dat God die heidene red. Dan kan God party van die Israeliete ook red. Toe God die Israeliete gelos het, het Hy die sonde weggeneem van ander mense in die wêreld. Nou is alles reg tussen die ander mense en God. Julle moet dit weet: Wanneer God die Israeliete weer aanneem om aan Hom te behoort, dan sal dit wees soos wanneer Hy dooie mense weer laat lewe. Wanneer iemand 'n stukkie van die deeg offer, dan behoort die hele stuk deeg aan God. En wanneer die wortel van 'n boom aan God behoort, dan behoort die takke van die boom ook aan God.
God het die Israeliete gelos en Hy red julle wat heidene is. Dit is soos wanneer iemand takke van 'n mak olyfboom afbreek en dan takke van 'n wilde olyfboom inent op die mak olyfboom. Dan groei daardie wilde takke aan die mak olyfboom en hulle kry ook van die boom se wortel al die kos wat hulle nodig het. Julle wat heidene is, is soos die wilde takke, en die Israeliete is soos die mak takke. Die wilde takke mag nie dink hulle is beter as die mak takke nie, want die wilde takke lewe nie self nie, hulle kry hulle kos van die boom se wortel. Julle wat heidene is, sê miskien: “God het die mak takke afgebreek sodat Hy ons op die boom kon inent.” Ja, dit is waar. Maar julle moet onthou dat God die mak takke, die Israeliete, afgebreek het omdat hulle nie in Christus glo nie. Julle wat heidene is, het vasgegroei aan die boom omdat julle in Christus glo. Daarom moet julle nie hoogmoedig wees nie. Nee, julle moet vir God respekteer en Hom dien. Julle moet onthou God was nie jammer vir die mak takke nie en Hy sal miskien ook nie jammer wees vir julle nie.
Julle moet weet God is baie goed, maar Hy is ook kwaai. Hy is kwaai met die mense wat nie in Christus glo nie en wat verlore gaan. God is baie goed vir julle, maar dan moet julle aanhou lewe soos mense wat weet dat God baie goed is vir hulle. As julle dit nie doen nie, dan sal God julle ook afkap van die boom soos Hy die mak takke afgekap het. As die Israeliete in Christus glo, dan sal God hulle weer aanneem om aan Hom te behoort. God kan dit doen. Julle wat heidene is, is soos takke van 'n wilde olyfboom. Wilde takke groei nie maklik op 'n mak olyfboom nie, maar God het vir julle afgekap en Hy het julle ingeënt op 'n mak olyfboom. Daarom sal dit vir God baie makliker wees om die Israeliete weer aan te neem, want hulle is soos die takke wat maklik weer vasgroei aan die boom van waar dit kom.