Psalms 139:1-14

Psalms 139:1-14 ABA

Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm. Here, U het tot diep in my gekyk, U ken my baie goed. U weet alles wat ek doen, net U weet dit, U is ver, maar U weet wat ek dink. U weet hoe ver ek loop en hoe lank ek slaap. U weet wat ek doen, oral waar ek gaan. Ja, Here, ek het nog nie begin om iets te sê nie, dan weet U klaar alles wat ek wil sê. U is agter my en U is voor my, U hand beskerm my. Ek verstaan nie hoe U alles weet nie, dit is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie. Waarnatoe kan ek gaan waar U nie is nie? Waarnatoe kan ek wegvlug van U? As ek opklim na die hemel, dan sal U daar wees. As ek in die doderyk my slaapmat oopgooi en gaan lê, dan sal U dáár ook wees. As ek ver na die ooste vlieg of as ek ver in die weste gaan woon, dan sal U ook dáár vir my lei en my vashou. As ek sê die donker moet my toemaak, die lig rondom my moet donker word, dan is dit nie donker vir U nie. Vir U is die nag so lig soos die dag en donker is vir U soos lig. Ja, dit is U wat my gemaak het, 'n mens wat kan voel en dink. U het my hele liggaam gemaak voordat ek gebore is. Ek wil vir U dankie sê, want ek word bang wanneer ek sien hoe wonderlik U my gemaak het. Alles wat U doen, is wonderlik, ek weet dit baie goed.