Ek wag en verlang daarna dat U my sal red,
ek is seker dat U sal doen wat U gesê het.
My oë is moeg, want ek hou aan om te kyk
wanneer U dit weer goed sal laat gaan met my
soos U belowe het.
Ja, ek het geword soos 'n velsak
wat in die rook hang,
maar ek vergeet nie u wette nie.
Ek is u dienaar.
Hoe lank sal ek nog lewe?
Wanneer straf U die mense
wat my volg en jaag?
Die hoogmoedige mense het gate gegrawe
sodat ek daarin moet val,
húlle is die mense wat nie doen
wat U vir ons geleer het nie.
Al u gebooie staan vas, dit verander nooit.
Ek het niks verkeerd gedoen nie,
maar mense volg my en jaag my.
U moet my help.
Ek het gedoen wat U beveel het,
maar hulle het my amper doodgemaak.
U moet my laat aanhou lewe, soos U belowe het,
sodat ek kan doen wat U sê.
Here, die dinge wat U vir ons gesê het,
is altyd waar,
dit staan vas in die hemel, dit verander nooit.
U bly dieselfde vir elke geslag.
U het die aarde gesit waar dit is,
en dit is nog altyd daar.
Alles is vandag nog daar, soos U besluit het,
want almal doen wat U sê.
Ek het geniet wat U vir ons leer.
As dit nie so was nie,
dan het ek gesterf, want ek kry swaar.
Ek sal nooit vergeet wat U beveel het nie,
want U het my so laat lewe.
Ek behoort aan U, en U moet my red,
want ek probeer om te doen wat U beveel.
Die mense wat verkeerd doen,
is gereed om my dood te maak,
maar ek dink net aan wat U gesê het.
Ek het gesien dat niks vir altyd aanhou nie,
alles het 'n einde,
maar u gebooie is oral en altyd daar.