Dit is beter om te weet dat mense jou sal onthou,
beter as om ryk te wees.
Dit is beter om vriendelik te wees
as om silwer en goud te hê.
Ryk en arm mense is vir die Here dieselfde,
Hy het hulle almal gemaak.
'n Verstandige mens sien wanneer daar
probleme kom, en hy vlug.
Mense wat baie min weet, vlug nie,
en hulle kry swaar.
Wanneer iemand nederig is
en hy respekteer en dien die Here,
dan word hy ryk, en mense respekteer hóm,
en hy lewe lank.
Daar is dorings en vangstrikke op die pad
van skelm mense,
maar iemand wat wil aanhou lewe,
loop nie op daardie verkeerde pad nie.
Wanneer jy vir 'n jongmens leer hoe hy moet lewe,
dan hou hy aan om so te lewe,
ook wanneer hy oud geword het.
Ryk mense regeer oor arm mense,
en iemand wat geld geleen het,
word die slaaf van die persoon
by wie hy die geld geleen het.
Dit sal sleg gaan met iemand wat slegte dinge doen
aan ander mense,
hy sal straf kry omdat hy dink hy kan doen wat hy wil.
Die Here sal die persoon seën
wat goed is vir ander mense
en wat vir arm mense van sy kos gee.
Wanneer jy iemand wegjaag wat altyd wil spot,
dan sal die mense ophou twis,
en dan kan hy nie meer mense beskuldig
en beledig nie.
Wanneer iemand eerlik lewe en vriendelik is,
dan is die koning sy vriend.
Mense kan aanhou leer hoe om te lewe
omdat die Here regeer.
Hy laat die dinge wat verraaiers sê,
nie gebeur nie.
'n Lui mens sê: “Daar is 'n leeu daar buite.
Hy sal my vang as ek uitgaan.”
Wanneer 'n slegte vrou jou uitnooi,
dan is dit soos wanneer jy by 'n diep gat staan.
As die Here jou vervloek,
dan sal jy in die gat val.
'n Jongmens kan maklik 'n dwaas word,
maar 'n pak slae sal help dat hy nie 'n dwaas word nie.
Iemand wat arm mense verdruk,
wil homself ryk maak,
maar iemand wat presente gee vir ryk mense,
word self arm.
Jy moet goed luister na wat die wyse mense sê,
jy moet hard probeer om te leer,
want dit is lekker om dinge te weet
en om dit weer te kan vertel.
Ek leer vir jou vandag, vir jóú,
sodat jy kan weet dat die Here doen
wat Hy belowe het.
Ek skryf hierdie belangrike dinge vir jou
sodat jy kan weet wat om te doen
en sodat jy kan leer.
Jy moet weet wat die waarheid is
en wat jy kan glo,
sodat jy vir die persoon wat jou stuur,
kan sê wat regtig gebeur het.
Jy moenie 'n arm mens se goed vat
omdat hy arm is nie,
jy moenie iemand wat homself nie kan beskerm nie,
verkeerd oordeel nie,
want die Here sal self die Regter wees vir hulle,
en Hy sal die persoon laat sterf wat vir húlle wil laat sterf.
Jy moenie vriende wees met iemand
wat gou kwaad word nie,
jy moenie saamgaan met so 'n mens nie,
want jy sal miskien soos hy word
en jy sal soos 'n voël in 'n vangstrik trap.
Jy moenie soos ander mense vir iemand
borg staan nie,
jy moenie belowe om sy skuld te betaal
as hy dit nie kan betaal nie.
As jy nie kan betaal nie,
dan sal mense ook jou bed wegvat.
Jy moenie grense verander nie,
grense wat van lank gelede daar is,
grense wat daar was toe jou voorvaders gelewe het.
Jy moet dit weet, 'n man wat vaardig is in sy werk,
sal vir konings werk,
hy sal nie werk vir onbelangrike mense nie.