Spreuke 17:1-28

Spreuke 17:1-28 ABA

Dit is beter om net 'n droë stukkie kos te hê as om 'n huis vol vleis te hê waar die mense baklei. 'n Verstandige slaaf sal regeer oor 'n seun wat niks reg doen nie. Die slaaf sal saam met daardie seun se broers die pa se goed erf. 'n Mens smelt silwer in 'n pot en jy smelt goud in 'n oond, maar die Here toets mense se harte. Iemand wat verkeerde dinge wil doen, luister na mense wat slegte dinge sê. Iemand wat leuens vertel, luister na mense wat alles wil verwoes. Wanneer jy vir 'n arm mens lag, dan beledig jy vir God wat die arm mens gemaak het. As jy bly is wanneer iemand anders swaarkry, dan sal die Here jou straf. Kleinkinders laat oumense soos konings voel, en kinders is trots op hulle ouers. 'n Mens dink dat 'n dwaas nie mooi sal praat nie, 'n mens dink ook dat 'n belangrike mens nie sal lieg nie. Iemand wat presente gee sodat mense verkeerde dinge moet doen, dink die presente sal hom laat slaag oral waar hy gaan. Iemand wat maak of hy nie sien wanneer iemand anders iets teen hom doen nie, is iemand wat lief is vir mense. Iemand wat vertel wat ander mense oor mekaar sê, laat vriende kwaad word vir mekaar. 'n Verstandige mens luister wanneer iemand met hom raas, maar 'n dwaas luister nie, hy luister ook nie wanneer hulle hom 100 maal met 'n stok slaan nie. 'n Slegte mens wil altyd opstandig wees, maar daar sal iemand kom wat hom wreed sal straf. Dit is gevaarlik om naby 'n beer-wyfie te kom wat kwaad is omdat haar kleintjies dood is, maar dit is slegter om 'n dwaas te ontmoet wat dom dinge doen. Wanneer jy slegte dinge doen aan mense wat goed was vir jou, dan sal dit altyd sleg gaan met jou huisgesin. Twis begin soos wanneer water begin lek, dit is beter dat jy ophou voordat die twis begin. Die Here haat dit wanneer iemand sê dat 'n skuldige mens onskuldig is, en Hy haat dit wanneer iemand sê dat 'n onskuldige mens skuldig is. 'n Dwaas het miskien geld om wysheid te koop. Sal dit hom help? Nee, want hy het nie verstand nie. Jy kan altyd weet dat 'n vriend lief sal wees vir jou en dat 'n broer daar is om te help wanneer dit sleg gaan met jou. 'n Mens wat nie verstand het nie, sal borg staan en sê dat hy sy vriend se skuld sal betaal. Iemand wat graag ander mense kwaad maak, hou van twis. Wanneer iemand dink dat hy beter is as ander mense, dan sal dit gou sleg gaan met hom. Dit sal nie goed gaan met 'n mens wat vals is nie. As hy ander mense wil bedrieg, dan sal dit sleg gaan met hom. 'n Mens is hartseer wanneer jou kind 'n dwaas is, jy het dan niks waaroor jy bly kan wees nie. 'n Gelukkige mens is ook 'n gesonde mens, maar 'n mens wat moedeloos is, word siek. 'n Mens wat verkeerd doen, neem geld wat iemand skelm vir hom gee, en dan oordeel hy nie reg nie. 'n Verstandige mens dink hoe hy wysheid kan kry, maar 'n dwaas dink hoe hy die hele aarde kan kry. Wanneer ouers 'n kind het wat 'n dwaas is, dan is hulle hartseer en teleurgesteld. Dit is verkeerd wanneer 'n onskuldige persoon boete moet betaal, dit is ook verkeerd om 'n belangrike persoon te laat slaan wanneer hy eerlik is. Iemand wat baie weet, praat nie baie nie, 'n verstandige persoon word nie gou kwaad nie. Mense dink iemand het wysheid wanneer hy nie praat nie, hulle dink hy is verstandig wanneer hy stilbly, hulle dink dit ook wanneer hy 'n dwaas is.

Video vir Spreuke 17:1-28

Gratis leesplanne en oordenkings oor Spreuke 17:1-28