Markus 9:1-32

Markus 9:1-32 ABA

Jesus het vir die mense en vir sy dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat God Koning is, hulle sal dit sien voordat hulle sterf.” Ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem tot op 'n hoë berg. Daar was nie ander mense by hulle nie. Daar by hulle het Jesus toe skielik begin anders lyk. Sy klere het blink en baie wit geword. Niemand op die aarde kon dit witter maak nie. Elia en Moses het aan hulle verskyn en hulle het met Jesus gestaan en praat. Petrus sê toe vir Jesus: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente maak, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.” Petrus het nie geweet wat hy moet sê nie, want hy en die ander twee dissipels was baie bang. Daar het toe 'n wolk oor hulle gekom. Hulle het gehoor God praat uit die wolk. God het gesê: “ Dit is my Seun, Ek is lief vir Hom. Julle moet doen wat Hy sê.” Die drie dissipels het dadelik rondgekyk, maar hulle het net vir Jesus gesien, niemand anders nie. Jesus en sy dissipels het afgekom van die berg, en Jesus het vir hulle gesê hulle moet vir niemand vertel wat hulle gesien het nie. Hulle kon dit vertel nadat Hy, die Seun van die mens, weer begin lewe het. Die dissipels was gehoorsaam, maar hulle het met mekaar gepraat en gevra wat dit beteken om weer te begin lewe. Die dissipels het vir Jesus gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes Elia moet kom voordat die Messias kom?” Jesus het vir hulle gesê: “ Elia moet eers kom om alles gereed te maak. Maar hoekom het die profete geskryf dat Ek, die Seun van die mens, baie swaar moet kry en dat die mense slegte dinge sal doen aan My? Ek sê vir julle: Elia het al klaar gekom, en die mense het met hom alles gedoen wat hulle wou doen. Dit het gebeur soos die profete oor hom geskryf het.” Daarna het Jesus en die drie dissipels teruggegaan na die ander dissipels toe. Hulle het gesien daar is 'n groot klomp mense rondom die ander dissipels. Die skrifgeleerdes was besig om met die dissipels te stry. Toe die mense vir Jesus sien, was hulle baie verbaas. Hulle het na Hom toe gehardloop en hulle het Hom gegroet. Jesus het vir die skrifgeleerdes gevra: “Hoekom stry julle met my dissipels?” Een van die mense het vir Jesus geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring, want daar is 'n onrein gees in hom wat hom stom maak. Wanneer die onrein gees in die seun kom, dan gooi hy die seun op die grond. Dan kry die seun skuim om sy mond, hy byt op sy tande en sy liggaam word heeltemal styf. Ek het vir u dissipels gevra om die onrein gees uit te jaag, maar hulle kon nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle glo nie! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring die seun na My toe.” Hulle het die seun na Jesus toe gebring. Toe die onrein gees vir Jesus sien, het hy dadelik die seun op die grond laat val. Die seun het geruk en geskop en daar was skuim om sy mond. Jesus het vir die seun se pa gevra: “Van wanneer kom die onrein gees in jou seun?” Die pa het gesê: “Vandat hy klein was. Baie maal het die onrein gees hom in vuur en in die water laat val om hom dood te maak. As U kan, dan moet U asseblief jammer wees vir ons en ons help!” Jesus het vir hom gevra: “Hoekom sê jy ‘As U kan?’ Iemand wat glo, kan enige iets doen.” Die seun se pa het dadelik hard gesê: “Ek volg U nog nie, maar ek glo, help my asseblief.” Toe Jesus sien dat 'n groot klomp mense na hulle toe hardloop, het Hy hard met die onrein gees gepraat en vir hom gesê: “Jy is 'n gees wat mense stom en doof maak. Ek sê vir jou: Gaan uit die seun uit! Jy moet nooit weer in hom inkom nie!” Die gees het hard geskree en hy het die seun nog meer laat ruk en skop. Toe het hy uit die seun uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, en baie van die mense het gesê hy is dood. Jesus het sy hand geneem en hom opgehelp, en die seun het opgestaan. Jesus het huis toe gegaan, en toe sy dissipels alleen by Hom was, het hulle vir Hom gesê: “Ons kon nie die onrein gees uitjaag nie. Hoekom nie?” Jesus het hulle geantwoord: “'n Mens kan hierdie soort onrein gees net uitjaag as jy tot God bid.” Hulle het van daar weggegaan en deur Galilea gegaan. Jesus wou nie hê iemand moes weet waar hulle is nie, want Hy was besig om vir sy dissipels te leer. Hy het gesê: “God sal My, die Seun van die mens, vir die mense gee sodat hulle My kan doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.” Die dissipels het nog nie verstaan wat Jesus gesê het nie en hulle was te bang om vir Hom te vra wat sy woorde beteken.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid