Terwyl hulle geëet het, het Jesus brood geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood, dit is my liggaam.”
Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels, en hulle het almal daarvan gedrink. Jesus sê toe vir hulle: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir baie mense sal vloei, is die bloed van die verbond. Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek sal nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek nuwe wyn sal drink by God wat Koning is.”
Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg.
Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal ophou om in My te glo. Die profeet Sagaria het geskryf:
“God het gesê: Ek sal
die skaapwagter doodmaak,
en die skape sal weghardloop
na al die kante toe.
“Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.”
Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nie ophou om in U te glo nie!”
Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan die tweede maal kraai.”
Maar Petrus het aangehou en ernstig gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê ek ken nie vir U nie.”
Al die ander dissipels het ook aangehou om dit te sê.
Jesus en sy dissipels kom toe by die plek Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil gaan bid.”
Hy het vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem. Jesus het baie bang en ontsteld geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker.”
Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê om te bid. Hy het gebid dat die Vader Hom nie baie swaar moet laat kry nie. Maar Hy het gesê die Vader moet self besluit. Hy het gebid: “Vader, my Vader, U kan alles doen wat U wil doen. Neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”
Jesus het teruggekom en toe sien Hy die drie dissipels slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Simon, slaap jy? Kon jy nie een uur wakker bly nie? Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.”
Jesus het weer weggegaan en Hy het dieselfde woorde gebid. Toe Hy terugkom, het Hy gesien die drie dissipels slaap weer, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. Toe Jesus die derde maal by hulle kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Dit is nou klaar! Dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.”
Terwyl Jesus gepraat het, het Judas daar aangekom. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was 'n klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het hulle gestuur. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal 'n man soen, dit is Jesus. Julle moet daardie man vang, julle moet hom wegvat en hom goed oppas.”
Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer!” en hy het vir Jesus gesoen.
Die mense wat saam met Judas was, het vir Jesus gegryp en Hom gevang. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester daarmee geslaan en hy het sy oor afgekap. Jesus het gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek was elke dag saam met julle by die tempel. Ek het vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Maar dit alles moet gebeur sodat dit waar kan word wat die Ou Testament sê.”
Jesus se dissipels het Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Daar was 'n jongman wat saam met Jesus gegaan het. Hy het nie klere aangehad nie, net 'n stuk lap om sy liggaam. Die mense het hom gegryp en probeer om hom vas te hou, maar hy het die lap daar gelos en kaal weggehardloop.