Markus 10:32-52

Markus 10:32-52 ABA

Jesus en sy dissipels was op die pad na Jerusalem. Jesus het ver voor hulle geloop. Die dissipels was verbaas toe hulle dit sien, en die mense wat hulle gevolg het, was bang. Jesus het weer met die twaalf dissipels gepraat. Hy het vir hulle begin vertel van die dinge wat met Hom sal gebeur. Jesus het gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en op My spoeg en My met 'n sweep slaan en My doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.” Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Jesus toe gekom en gesê: “Meneer, as ons vir U iets vra, dan moet U dit asseblief vir ons doen.” Jesus het vir hulle gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom toe: “U sal koning wees oor almal. Gee dan vir ons die sitplekke langs U, een regs langs U en een links langs U.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink? Kan julle gedoop word soos Ek gedoop sal word?” Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.” Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink, en julle sal gedoop word soos Ek gedoop sal word. Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. God het klaar besluit wie daar moet sit.” Toe die ander tien dissipels hoor wat Johannes en Jakobus gevra het, het hulle kwaad geword. Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat dink hulle kan oor ander mense regeer en hulle kan die mense verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense. Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander mense dien. En as een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees. Want Ek, die Seun van die mens, het gekom, maar nie sodat almal My moet dien nie. Ek het gekom om mense te dien en om my lewe te gee en te sterf. So sal Ek betaal om baie mense vry te maak van hulle sonde.” Jesus en sy dissipels het in die stad Jerigo gekom. Toe hulle en baie ander mense weer uit Jerigo uitgaan, het Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. Bartimeus was blind en hy het gebedel. Toe hy hoor Jesus van Nasaret is daar, het hy hard begin roep: “Jesus, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en my help!” Baie mense het met hom geraas en vir hom gesê hy moet stilbly, maar hy het aangehou en nog harder geskree: “Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en my help!” Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom!” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie. Staan op, Jesus roep jou!” Die blinde man het sy bo-kleed op die grond gegooi en hy het opgespring en na Jesus toe gegaan. Jesus het vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde man sê toe: “Meneer, ek wil weer sien!” Jesus het vir hom gesê: “Jy mag gaan. Jy kan nou sien, want jy het geglo.” Die man kon dadelik sien. Maar hy het Jesus gevolg en saamgegaan met Hom op die pad.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 10:32-52