Toe Jesus die baie mense sien, het Hy teen die berg opgegaan en gaan sit. Sy dissipels het na Hom toe gekom. Toe het Hy begin om vir hulle te leer. Hy het vir hulle gesê:
“Mense wat weet hulle het
vir God nodig,
is gelukkige mense,
want God wat in die hemel is,
is hulle Koning.
Mense wat nou hartseer is,
is gelukkige mense,
want God sal hulle hartseer
wegneem.
Mense wat nederig is
en wat op God vertrou,
nie op hulleself nie,
is gelukkige mense,
want God sal vir hulle
die aarde gee.
Mense wat baie graag wil doen
wat God wil hê,
is gelukkige mense,
want God sal vir hulle help
om alles te doen wat Hy wil hê.
Mense wat goed is vir iemand
wat swaarkry,
is gelukkige mense.
God sal vir hulle ook goed wees.
Mense wat net vir God dien,
is gelukkige mense,
want hulle sal God sien.
Mense wat vrede maak
tussen mense,
is gelukkige mense.
God sal sê hulle is sy kinders.
Wanneer mense doen
wat God wil hê,
en ander mense doen
slegte dinge aan hulle,
dan is hulle gelukkige mense.
God wat in die hemel is,
is hulle Koning.
“Julle is gelukkige mense wanneer ander mense julle beledig en slegte dinge doen aan julle omdat julle My dien. Julle is gelukkige mense wanneer hulle slegte stories oor julle vertel wat alles leuens is. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle baie bly wees, want in die hemel sal God vir julle baie goed wees. Die mense het ook slegte dinge gedoen aan die profete wat voor julle gelewe het.”
“Julle is vir die aarde soos sout in kos. Maar as sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie. Daardie sout beteken niks. Mense gooi dit buite weg en hulle trap daarop.
“Julle is vir die wêreld soos lig wat skyn. As 'n stad bo-op 'n berg lê, dan kan al die mense die stad sien. So steek 'n mens ook nie 'n lamp op en maak dit dan toe met 'n emmer nie. Nee, 'n mens sit 'n lamp op die lampstaander, en die lig skyn sodat almal in die huis kan sien. So moet die mense ook julle lig kan sien. Hulle moet sien julle lewe reg. Dan sal hulle ook julle Vader prys wat in die hemel is.”
“Moenie dink Ek het gekom om te sê die Wette van Moses en die boeke van die profete is nie meer belangrik nie. Ek het nie gekom om te sê dit is nie belangrik nie, Ek het gekom om te wys wat Moses en die profete bedoel het. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die hemel en die aarde sal verdwyn, maar niks in die Wette van Moses sal verdwyn nie, nie die kleinste letter of letter-strepie nie. Alles wat daar geskryf is, moet eers gebeur. Iemand dink miskien dit is nie nodig om gehoorsaam te wees aan een van die onbelangrikste van hierdie wette nie, en hy leer vir ander mense ook so. Dan sal hy niks beteken nie by God, die Koning wat in die hemel is. Maar iemand wat gehoorsaam is aan die wette van God en wat vir ander mense ook so leer, sal belangrik wees by God, die Koning wat in die hemel is. Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle moet gehoorsaam wees en doen wat God wil hê, meer gehoorsaam as die skrifgeleerdes en die Fariseërs. As julle dit nie doen nie, dan sal julle nie by God kan kom nie, by God, die Koning wat in die hemel is.”
“Julle weet die wette sê: ‘ Jy mag nie iemand vermoor nie. As jy iemand vermoor, dan sal die hof jou straf.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad word, moet dit weet: Die hof sal hom straf. En elkeen wat vir sy broer sê: Jy is 'n domkop, die Joodse Raad sal hom straf. En elkeen wat vir iemand sê: Jy is 'n dwaas, hy sal brand in die vuur van die hel. Wanneer jy jou offer na die altaar bring, en jy onthou daar dat jou broer kwaad is vir jou, moenie dan offer nie. Los jou offer daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer. Kom dan terug en bring jou offer vir God. Wanneer iemand jou hof toe wil vat, dan moet jy met hom vrede maak voordat julle by die hof kom. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou na die hof bring, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit. Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.”