Matteus 24:23-51

Matteus 24:23-51 ABA

Wanneer iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Daar is Hy!’ dan moet julle hom nie glo nie, want daar sal mense kom wat vals is en wat sê hulle is die Christus. Daar sal ook vals profete kom en hulle sal groot tekens wys en wonderwerke doen. God het mense gekies, en die vals profete sal probeer om ook daardie mense verkeerd te laat doen. Maar die vals profete sal dit nie regkry nie. Julle moet luister, Ek het dit alles vir julle gesê voordat dit gebeur. En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ dan moet julle nie daarnatoe gaan nie. En as hulle vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in 'n kamer!’ dan moet julle dit nie glo nie. Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos wanneer die weerlig van die ooste tot in die weste skyn. Al die mense sal weet dat Ek kom, soos mense weet dat daar 'n dooie liggaam is wanneer hulle sien die aasvoëls kom bymekaar.” Jesus het gesê: “En nadat mense die gelowiges verdruk het, sal dit nie lank wees nie, “ dan sal die son donker word en die maan sal nie skyn nie. Die sterre sal uit die lug val en alles in die lug sal skud. “Dan sal mense 'n teken in die lug sien wat sal wys dat Ek, die Seun van die mens, kom. En die volke van die aarde sal huil en treur. Almal sal My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. Wanneer iemand die groot trompet blaas, dan sal Ek my engele stuur en Ek sal al die mense bymekaarmaak wat Ek gekies het. Ek sal hulle bymekaarmaak van die ooste, die weste, die noorde en die suide, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.” Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer 'n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.” “Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit. Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos in die tyd van Noag. Want in daardie dae voor die watervloed het die mense aangehou om te eet en te drink en te trou en hulle kinders te laat trou tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het. En hulle het nie geweet wat gebeur het nie, totdat die watervloed gekom het en alles weggespoel het. So sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die mens, kom. Dan sal twee mense in 'n koringland werk, en God sal die een mens kies maar nie die ander een nie. Twee vroue sal met dieselfde maalklippe koring maal, en God sal een vrou kies maar nie die ander een nie. Julle moet wakker wees, want julle weet nie op watter dag julle Here sal kom nie. “Maar julle moet dit weet: As die eienaar van 'n huis weet hoe laat in die nag 'n dief sal kom, dan sal hy wakker bly en nie toelaat dat die dief by sy huis inbreek nie. Daarom moet julle ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.” Jesus het ook gesê: “Ek wil vir julle vertel hoe is 'n slaaf wat verstandig is en wat doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om die hoof te wees oor al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien die slaaf is besig om alles te doen wat hy vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. Maar 'n slegte slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. Dan begin hierdie slaaf die ander slawe slaan en hy eet en drink saam met die slegte mense wat altyd dronk is. En eendag kom die eienaar van die slaaf skielik terug, hy kom wanneer die slegte slaaf dit nie verwag nie, en nie weet hoe laat die eienaar kom nie. Dan sal die eienaar daardie slegte slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat skynheilig is. Die slegte slaaf sal saam met hulle huil en hard op sy tande byt van die pyn.”