Lukas 9:28-62

Lukas 9:28-62 ABA

Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom geneem. Hy het teen 'n berg opgegaan om daar te bid. Jesus se gesig het anders begin lyk terwyl Hy besig was om te bid. Sy klere het baie wit geword en dit het geblink. Skielik was daar twee mans wat met Jesus gepraat het. Dit was Moses en Elia, en hulle het soos konings gelyk. Hulle het gepraat oor Jesus wat 'n paar dae later in Jerusalem sou sterf. Petrus, Johannes en Jakobus het aan die slaap geraak. Hulle het later wakker geskrik en hulle het vir Jesus en die twee mans by Hom gesien. Jesus het ook soos 'n koning gelyk. Moses en Elia het gereedgemaak om weg te gaan van Jesus, en Petrus het vir Jesus gesê: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente opslaan, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.” Petrus het nie besef wat hy sê nie. Petrus was nog besig om te praat, toe kom daar 'n wolk wat vir hulle almal toegemaak het. Die drie dissipels het bang geword toe die wolk oor hulle kom. Die dissipels het gehoor God praat uit die wolk. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek gekies het. Julle moet doen wat Hy sê.” Toe God klaar gepraat het, het die drie dissipels net vir Jesus daar gesien. Die dissipels het stilgebly, en terwyl Jesus by hulle op die aarde was, het hulle vir niemand vertel van die dinge wat hulle gesien het nie. Die volgende dag het Jesus en die drie dissipels afgekom van die berg. Baie mense het na Hom toe gekom. Een van die mense het hard gepraat en gesê: “Meneer, ek soebat U, help asseblief my seun. Hy is my enigste seun. Daar is 'n onrein gees wat my seun aanval, dan begin my seun dadelik skree. Die gees laat hom ruk en skop, en skuim kom by sy mond uit. Die gees los my seun amper nooit nie, en hy is besig om my seun dood te maak. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te jaag, maar hulle kon nie.” Toe sê Jesus: “Julle glo nie en julle is sleg! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring jou seun hiernatoe.” Toe die seun nader kom, het die duiwel hom op die grond laat val en hom laat ruk en skop. Jesus het hard met die onrein gees gepraat en Hy het hom uit die seun gejaag. Jesus het die seun gesond gemaak en hom vir sy pa teruggegee. Al die mense was verbaas omdat God so sterk is en dit alles kan doen. Al die mense was verbaas oor alles wat Jesus gedoen het. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek vir julle sê. Die tyd is nou naby wanneer God vir My, die Seun van die mens, vir die mense sal gee sodat hulle My kan doodmaak.” Maar die dissipels het nie verstaan wat Jesus gesê het nie. God het nog nie vir hulle gewys wat hierdie woorde beteken nie, en hulle kon dit nie verstaan nie. Hulle was te bang om vir Jesus te vra wat hierdie woorde beteken. Die dissipels het met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy neem toe 'n kindjie en Hy laat die kindjie by Hom staan. Jesus het vir die dissipels gesê: “Wanneer iemand vir hierdie kindjie wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê hy Ek is ook welkom by hom. En wanneer Ek by iemand welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hom. Die een wat die minste belangrik is van julle almal, hy is die belangrikste by God.” Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om duiwels uit mense te jaag. Ons het hom probeer keer omdat hy nie saam met ons by U is nie.” Maar Jesus het vir Johannes gesê: “Julle moet hom nie keer nie, want as hy nie teen julle is nie, dan help hy vir julle.” Dit was amper Jesus se tyd om na die hemel te gaan. Hy het besluit om na Jerusalem te gaan. Hy het boodskappers gestuur en hulle het by 'n Samaritaanse dorpie gekom en vir die mense gevra hulle moet vir Jesus slaapplek en kos gereedmaak. Maar die mense wou nie vir Jesus daar hê nie, omdat Hy na Jerusalem wou gaan. Jakobus en Johannes, twee van Jesus se dissipels, het dit gesien, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, wil U hê ons moet bid dat vuur uit die hemel kom en hierdie mense verbrand?” Maar Jesus het omgedraai en met Jakobus en Johannes geraas. Jesus en sy dissipels het toe na 'n ander dorpie gegaan. Toe Jesus en sy dissipels besig was om na Jerusalem te gaan, het iemand vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, oral waar U gaan.” Jesus sê toe vir hom: “Jakkalse woon in gate, en voëls het neste. Maar Ek, die Seun van die mens, het nie 'n plek waar Ek kan woon nie.” Jesus het vir iemand anders gesê: “Kom saam met My.” Maar die man het gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, maar ek moet eers wag tot my pa dood is sodat ek hom kan begrawe.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Dit is belangriker om My te volg as om te wag totdat jy jou pa begrawe het. Jy moet vir die mense gaan vertel God is Koning.” Iemand anders het ook vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, maar ek wil asseblief eers vir my familie gaan totsiens sê.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Iemand wat begin ploeg en aanhou om agtertoe te kyk, is nie gereed om vir God te werk nie, God wat Koning is.”

Video vir Lukas 9:28-62

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 9:28-62