Lukas 8:19-39

Lukas 8:19-39 ABA

Jesus se ma en broers het vir Hom kom kuier. Hulle kon nie naby Hom kom nie, want daar was te veel mense rondom Hom. Toe kom sê iemand vir Jesus: “Jou ma en jou broers staan hier buite en hulle wil jou graag sien.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “My ma en my broers is die mense wat die boodskap van God hoor en doen wat God wil hê.” Eendag het Jesus saam met sy dissipels in 'n boot geklim. Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die ander kant van die see.” Hulle het dit gedoen. Voordat hulle daar was, het Jesus aan die slaap geraak. Skielik het 'n sterk stormwind oor die see begin waai. Die boot het vol water geword en dit het gevaarlik geword vir hulle. Die dissipels gaan toe na Jesus toe en hulle maak Hom wakker. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, Meneer, ons sal verdrink.” Toe Jesus wakker word, het Hy kwaai gepraat met die wind en die groot branders. Die wind het opgehou waai, en alles het stil geword. Jesus sê toe vir die dissipels: “Hoekom glo julle nie?” Maar die dissipels het baie groot geskrik en hulle was baie verbaas. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie is hierdie Man? Hy sê vir die wind en die water hulle moet stil wees, en dan luister hulle na Hom!” Jesus en sy dissipels het toe verder gegaan tot by die land waar die Geraseners gewoon het, oos van Galilea. Toe hulle uit die boot klim, kom daar 'n man uit die stad na Jesus toe. Die man was vol duiwels, hy was mal. Hy het 'n lang tyd niks klere gedra nie en hy het nie in 'n huis gewoon nie. Hy het in die grafte gewoon. Toe die man vir Jesus sien, het hy hard geskree en voor Jesus op die grond geval. Hy het hard geskree: “Wat wil U met my doen, Jesus, Seun van die Allerhoogste God? Ek soebat U, U moenie vir my seermaak nie, asseblief.” Die man het dit gesê omdat Jesus vir die onrein gees gesê het hy moet uit die man uitgaan. Voorheen het die onrein gees die man baie maal aangeval. Dan moes die mense die man vasbind met kettings en voetboeie en hulle moes hom toesluit. Maar die man het altyd die kettings en boeie stukkend gebreek en dan het die duiwel hom in die woestyn ingejaag. Jesus vra toe vir die man: “Wat is jou naam?” En hy het geantwoord: “My naam is Legioen.” Hy het hierdie naam gekry omdat baie duiwels in hom gewoon het. Die duiwels het Jesus gesoebat om hulle nie na die onderwêreld te stuur nie. 'n Groot trop varke het teen die kant van die berg gewei. Die duiwels het vir Jesus gesoebat om hulle in die varke te laat ingaan. Jesus het gesê hulle mag dit doen. Die duiwels het uit die man uitgegaan en hulle het in die varke ingegaan. Die varke het teen die berg afgehardloop tot binne-in die see. Daar het almal verdrink. Die wagters wat die varke opgepas het, het gesien wat gebeur het. Hulle het weggehardloop en hulle het alles gaan vertel in die stad en op die plase. Die mense het gekom om te sien wat gebeur het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle die man, die duiwels het uit hom uitgegaan. Hy het by die voete van Jesus gesit. Hy het klere aangehad. Daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het groot geskrik. Die ander mense wat gesien het hoe Jesus die man gered het wat vol duiwels was, vertel toe alles. Al die mense in die land waar die Gerasene gewoon het, het vir Jesus gevra om weg te gaan van hulle, want hulle almal het baie bang geword. Jesus het toe in die boot geklim en weggegaan. Die man uit wie die duiwels gegaan het, het gesoebat om saam met Jesus te gaan. Maar Jesus het die man weggestuur en Hy het vir hom gesê: “Gaan terug na jou huis en vertel vir die mense alles wat God vir jou gedoen het.” Die man het weggegaan en hy het vir almal in die stad vertel wat Jesus vir hom gedoen het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 8:19-39

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid