Jesus het in Nasaret gekom, die stad waar Hy grootgeword het. Hy het altyd op die Sabbatdag na die sinagoge gegaan. Eendag het Hy in die sinagoge opgestaan om vir die mense uit die Bybel te lees. Iemand het die boek van die profeet Jesaja vir Hom gegee. Jesus het die boek oopgemaak en Hy het gelees wat Jesaja geskryf het: Die Gees van die Here lei my. Die Here het my gesalf en gesê ek moet die goeie boodskap vir die arm mense bring. Hy het my gestuur om vir die gevangenes te sê hulle is vry, hulle kan uitgaan. Hy het my gestuur om vir die blinde mense te sê hulle sal weer kan sien. Ek moet almal vrymaak wat swaarkry. Ek moet sê dit is nou die tyd wanneer die Here alles sal regmaak. Daarna het Jesus die boek toegemaak en Hy het dit teruggegee vir die persoon wat dit moes bêre. Jesus het gaan sit en almal in die sinagoge het na Jesus gekyk. Jesus het met die mense begin praat en gesê: “Vandag het God laat gebeur wat Ek uit die Bybel gelees het.” Almal het goed gepraat oor Jesus. Hulle het gedink die dinge wat Hy sê, is wonderlik. Hulle het vir mekaar gesê: “Hy is Josef se seun, en luister watter wonderlike dinge sê hy!” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moenie te gou bly word oor My nie. Julle sal later vir My wil sê: ‘As jy 'n dokter wil wees, dan moet jy eers jouself gesond maak. Ons het gehoor van al die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het. Jy moet dieselfde dinge nou ook hier doen, hier in die stad waar jy grootgeword het.’ ” Jesus het ook gesê: “Maar Ek sê vir julle: Mense hou nie van 'n profeet in die stad waar sy mense woon nie. Luister nou goed: In die tyd toe Elia in die land Israel gelewe het, het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie, en daar was baie min kos op die hele aarde. Daar was baie weduwees in die land Israel, maar die Here het nie vir Elia na een van hulle toe gestuur nie, net na 'n weduwee in die stad Sarepta in Sidon. En in die tyd toe die profeet Elisa gelewe het, was daar baie melaatse mense in die land Israel. Maar die Here het nie een van hulle gesond gemaak nie, net vir Naäman, die Siriër.” Almal in die sinagoge het kwaad geword toe hulle hoor wat Jesus sê. Hulle het opgestaan en vir Jesus weggejaag uit die stad. Hulle stad was op 'n berg, en hulle het Hom gevat tot by die kant van die berg. Hulle wou Hom daar afstamp. Maar Jesus het tussen die mense deur geloop en weggegaan.
Lees Lukas 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: Lukas 4:16-30
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's