Lukas 24:1-35

Lukas 24:1-35 ABA

Baie vroeg die Sondag-oggend het die vroue na die graf gegaan. Hulle het lekkerruik-olie gereedgemaak en hulle het dit saamgeneem. By die graf het hulle gesien iemand het die klip voor die graf weggerol. Hulle gaan toe by die graf in, maar sien nie die liggaam van die Here Jesus daar binne nie. Die vroue was baie verbaas daaroor. Skielik het daar twee mans by hulle gestaan, die mans het blink klere aangehad. Die vroue het bang geword en hulle het laag gebuig. Toe sê die mans vir hulle: “Hoekom soek julle die Een wat lewe by die mense wat dood is? Jesus is nie hier nie, God het Hom weer laat lewe. Onthou julle wat Jesus vir julle vertel het toe julle nog in Galilea was? Hy het gesê God sal Hom, die Seun van die mens, vir sondige mense gee om dood te maak, hulle sal Hom kruisig, maar Hy sal op die derde dag weer lewe.” Die vroue het toe onthou dat Jesus dit gesê het. Daarna het die vroue teruggegaan huis toe. Hulle het alles vir die elf apostels en die ander gelowiges vertel. Die vroue wat hierdie dinge gesien het, was Maria Magdalena, Johanna, Maria ma van Jakobus, en die ander vroue wat by hulle was. Toe hulle hierdie dinge vir die apostels vertel, het die apostels gedink die vroue praat nonsens, en hulle het die vroue nie geglo nie. Petrus het opgestaan en hy het na die graf gehardloop. Hy het gebuk en by die graf ingekyk en gesien daar lê net lappe. Hy het teruggegaan en hy was baie verbaas oor wat gebeur het. Dieselfde Sondag het twee van die mense wat ook altyd by Jesus se dissipels was, na die dorpie Emmaus geloop. Emmaus was 60 stadioi van Jerusalem. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat gebeur het met Jesus. Terwyl hulle daaroor wonder en praat, het Jesus self nader gekom en saam met hulle geloop. Maar hulle het nie gesien dit is Jesus nie, God het hulle dit nie laat sien nie. Jesus het vir hulle gevra: “Waaroor loop en praat julle met mekaar?” Die twee mans het gaan staan. Hulle was baie hartseer. Kleopas, een van die mans, het vir Jesus gevra: “Woon jy nie in Jerusalem nie? Weet jy nie van al die dinge wat hier gebeur het in die dae wat verby is nie?” Jesus het vir hulle gevra: “Watter dinge?” Hulle sê toe vir Jesus: “Al die dinge wat gebeur het met Jesus, die man van Nasaret. Jesus was 'n profeet. Hy het wonderlike dinge gedoen en gesê. God was by Hom en al die mense het van Hom geweet. Maar die priesterleiers en die leiers van ons volk het niks daarvan gehou nie. Hulle het vir Jesus gaan beskuldig by Pilatus, hulle wou hê Pilatus moet sê dat Jesus moet sterf. Toe het hulle vir Jesus gekruisig. Ons het gehoop Jesus is die Messias wat die volk Israel kon vrymaak. Maar dit het nie gebeur nie, want Jesus het drie dae gelede gesterf. 'n Paar vroue wat by ons is, het vroeg die oggend by die graf gekom en hulle het nie Jesus se liggaam daar gekry nie. Ons was verbaas daaroor. Die vroue sê ook hulle het engele gesien en die engele het gesê Jesus lewe. Party ander mense wat by ons is, het ook na die graf gegaan. Hulle het gesien alles is presies soos die vroue gesê het. Maar hulle het nie vir Jesus gesien nie.” Toe sê Jesus vir die twee mans: “Hoekom verstaan julle nie wat gebeur het nie? Hoekom wil julle nie glo wat die profete gesê het nie? Die profete het gesê die Christus moet eers swaarkry en dan sal Hy Koning word.” Toe het Jesus begin om vir hulle te verduidelik wat die boeke van Moses en die profete en die ander boeke van die Ou Testament oor Hom sê. Toe hulle naby die dorpie kom waarnatoe hulle geloop het, het Jesus gemaak of Hy verder wil loop. Maar die twee mans het vir Jesus gesê: “Nee, bly by ons, want dit is amper aand, die dag is verby.” Jesus het toe saam met hulle by die huis ingegaan en Hy het by hulle gebly. Toe hulle saam begin eet, het Jesus die brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood gebreek en dit vir die twee mans gegee. Toe het God hulle laat sien dat dit Jesus is. Maar toe het Jesus skielik verdwyn, hulle kon Hom nie meer sien nie. Die mans het vir mekaar gesê: “Nou weet ons hoekom ons so opgewonde was toe Hy met ons op die pad gepraat het en vir ons alles uit die Bybel verduidelik het.” Die twee mans het dadelik opgestaan en hulle het teruggegaan na Jerusalem. Hulle het die elf apostels daar gekry en ook die ander mense by hulle. Die apostels en die ander mense het vir die mans vertel dat die Here regtig weer lewe en dat Hy aan Simon verskyn het. Toe het die twee mans vir die apostels en die ander mense vertel wat alles gebeur het. Hulle het gesê hulle het besef dit is Jesus toe Hy die brood gebreek het.