Dit was die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood. Daardie dag moes die mense die paaslam slag. Toe stuur Jesus vir Petrus en Johannes en Hy sê vir hulle: “Gaan maak vir ons die Paas-ete gereed sodat ons dit kan eet.”
Die twee dissipels het vir Jesus gevra: “Waar wil U hê moet ons die ete gaan gereedmaak?”
Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle in die stad ingaan, dan sal 'n man na julle toe kom wat water in 'n kruik dra. Gaan saam met hom in die huis waar hy ingaan. Dan sê julle vir die eienaar van daardie huis: Ons Meneer vra waar die kamer is waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet. Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat ons moet hê vir die ete, is daar. Julle moet alles daar gereedmaak vir die Paas-ete.”
Die dissipels het gegaan, en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete.
Toe dit die regte tyd was, het Jesus by die tafel gaan sit en die apostels, die dissipels, het saam met Hom gaan sit. Jesus het vir hulle gesê: “Ek wou baie graag hierdie Paas-ete saam met julle eet voordat Ek swaarkry. Ek sê vir julle Ek sal dit nooit weer eet nie totdat almal sal weet dat God Koning is en almal sal weet wat hierdie Paas-ete beteken.”
Toe het Jesus 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het vir die apostels gesê: “Neem die beker wyn en drink almal daaruit, want Ek sê vir julle, Ek sal nie weer wyn drink nie totdat almal sal weet dat God Koning is.”
Jesus het toe brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy apostels gegee. Hy het gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Elke maal wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.”
Nadat hulle geëet het, het Jesus 'n beker wyn geneem. Hy het gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir julle sal vloei, is die bloed van die nuwe verbond. Maar kyk, die man wat My sal verraai, eet saam met My by hierdie tafel. Dit is waar dat Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos God besluit het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry.”
Die apostels het vir mekaar gevra wie van hulle so iets sal wil doen.
Die apostels het toe met mekaar begin stry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Die konings van die wêreld wil regeer oor hulle mense, en almal wat regeer, hou daarvan dat die mense sê hulle doen baie goeie dinge vir hulle mense. Maar julle moenie so wees nie. As iemand van julle belangrik wil wees, dan moet hy wees soos die jongste van julle, die een wat al die ander moet bedien. As iemand 'n leier wil wees, dan moet hy almal bedien. Want wie is die belangrikste: Die een wat by die tafel sit, of die een wat die mense by die tafel bedien? Natuurlik is dit die een wat by die tafel sit. Maar kyk na My, wat doen Ek? Ek is by julle soos iemand wat die mense by die tafel bedien. Julle het altyd by My gebly toe dit sleg gegaan het met My. Daarom sal Ek vir julle konings maak soos my Vader vir My 'n Koning gemaak het. Dan sal julle saam met My kan eet en drink by my tafel waar Ek Koning is. Julle sal op trone sit en julle sal die twaalf stamme van Israel oordeel.”
Toe sê Jesus vir Petrus: “Simon, Simon, jy moet goed luister, die Satan wil julle toets en hy wil kyk of julle sal ophou om in My te glo, hy wil julle graag sif soos 'n mens koring sif. Maar Ek het gebid dat jy sal aanhou om in My te glo. En jy, wanneer jy verander het en lewe soos God wil hê, dan moet jy jou broers help.”
Petrus het vir Jesus gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, ook as U tronk toe moet gaan en moet sterf, dan sal ek saam met U gaan.”
Jesus sê toe vir hom: “Petrus, jy sal drie maal sê jy ken nie vir My nie, jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.”
Toe sê Jesus vir die dissipels: “Kan julle onthou, toe Ek julle na die mense toe gestuur het, het Ek gesê julle moenie 'n beursie of 'n rugsak of sandale saamneem nie? Het julle toe iets nodig gekry?”
Die dissipels het geantwoord: “Nee, niks.”
Jesus het vir hulle gesê: “Maar nou is dit anders. As iemand 'n beursie het, dan moet hy dit saamneem. En as hy 'n rugsak het, dan moet hy dit saamneem. As hy nie 'n swaard het nie, dan moet hy sy bo-kleed verkoop en 'n swaard koop. Want Ek sê vir julle, nou sal waar word wat die profeet Jesaja gesê het. Hy het gesê: ‘ Die mense het gedink hy is een van die mense wat ongehoorsaam is aan God.’ Ja, al die dinge wat hulle oor my lewe geskryf het, sal nou gebeur.”
Toe sê die dissipels: “Here, kyk ons het twee swaarde.”
Maar Jesus het gesê: “Nee, daaroor sal ons nie weer praat nie.”
Jesus het uitgegaan na die Olyf-berg. Hy het dit elke aand gedoen vandat Hy in Jerusalem gekom het. Die dissipels het saam met Hom gegaan. Toe hulle by die Olyf-berg kom, het Jesus vir die dissipels gesê: “Julle moet bid dat julle sal aanhou om My te volg, ook wanneer julle swaarkry.”
Jesus het 'n bietjie verder van die dissipels gaan staan, omtrent so ver soos 'n mens met 'n klip kan gooi. Hy het gekniel en gebid en gesê: “Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”
Toe kom daar 'n engel uit die hemel. Hy het aan Jesus verskyn en vir Hom krag gegee. Daarna het Jesus baie bang geword en Hy het baie ernstig gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword en dit het op die grond gedrup. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan. Hy het by die dissipels gekom en gesien hulle slaap vas. Hulle was moeg, want hulle was baie bekommerd oor Jesus. Jesus het vir hulle gevra: “Hoekom slaap julle? Staan op en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie.”
Jesus was besig om te praat, toe kom daar 'n klomp mense by hulle. Judas, een van die dissipels, het voor geloop. Hy het nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Jesus vra toe vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?”
Die dissipels wat rondom Jesus gestaan het, het besef wat gaan gebeur, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, moet ons die mense met ons swaarde aanval?”
Een van die dissipels het toe met sy swaard na die hoëpriester se slaaf gekap. Hy het die slaaf se regter-oor afgekap. Maar Jesus het vir die dissipel gesê: “Hou op!” Jesus het aan die slaaf se oor geraak en Hy het die slaaf gesond gemaak. Toe vra Jesus vir almal wat gekom het om Hom te vang, die priesterleiers, die offisiere van die wagte wat by die tempel werk, en die familieleiers: “Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring? Dink julle Ek wil teen die regering veg? Ek was elke dag saam met julle by die tempel, en julle het My nie gevang nie. Maar nou is dit nag, die tyd wat die vyande van God kies om slegte dinge te doen, en julle kan nou doen wat julle besluit het om te doen.”
Hulle het toe vir Jesus gevang en hulle het Hom na die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het ook saamgegaan, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Die mense wat vir Jesus gevang het, het 'n vuur aangesteek op die oop stuk grond voor die huis, en hulle het daar gaan sit. Petrus het ook by hulle gaan sit. Een van die meisies wat daar werk, het vir Petrus gesien waar hy by die vuur sit. Sy het lank na hom gekyk en gesê: “Hierdie man was ook saam met Jesus.”
Maar Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Mevrou, ek ken Hom nie.”
'n Bietjie later het iemand anders, 'n man wat ook daar werk, vir Petrus gesien en gesê: “Jy is ook een van Jesus se mense.”
Maar Petrus het gesê: “Man, ek is nie.”
Ná omtrent 'n uur het 'n ander man ook gesê: “Maar ek is baie seker, hierdie man wás saam met Jesus se mense, want hy kom ook van Galilea.”
Maar Petrus het gesê: “Man, ek weet nie van wie jy praat nie.”
En dadelik, terwyl Petrus praat, het die haan gekraai. Toe draai die Here om en Hy kyk na Petrus. Petrus het onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal vandag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan kraai.”
Petrus het buitetoe gegaan en hy het hard gehuil.
Die wagte wat vir Jesus gevang het, het Hom gespot en geslaan. Hulle het sy oë toegebind en vir Hom gesê: “Wys vir ons jy is 'n profeet en sê vir ons wie het jou geslaan.”
Hulle het Hom ook nog op baie ander maniere beledig.